On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Pluimveevereniging veroordeel dat hoenders, eiers koronavirussiekte oordra

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 17:41 Wed, 11 Mar 2020

Landbounuus-podcast: Pluimveevereniging veroordeel dat hoenders, eiers koronavirussiekte oordra | News Article

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging het kennis geneem van die misleidende mediaboodskappe rakende die koronavirussiekte wat oorgedra kan word deur die verbruik van hoender en eiers.


Dr Ziyanda Majokweni-Qwalela, die direkteur van dié vereniging se agentskap vir die bestuur van pluimveesiektes, sê dié virussiekte word versprei van mens tot mens deur middel van 'n druppel-oordrag. Hy sê daar is geen bewyse tot op hede dat plaasdiere, of hul produkte, die Covid-19-virus kan versprei nie. Mense word steeds aangemoedig om algemene higiëne-maatreëls toe te pas wanneer hulle diere hanteer. Dit sluit in om gereeld hul hande  met seep te was nadat hulle in aanraking met diere en hul produkte was. Kontak met siek diere moet vermy word.

Die finansiële markte het oor die wêreld heen onder druk gekom weens die uitbreking van die coronavirus in Asië. Dié uitbreking van die virus het in 'n mate 'n invloed op die Suid-Afrikaanse graanbedryf. Dr. Dirk Strydom, 'n senior landbou-ekonoom en bestuurder van graan-ekonomie en bemarking by Graan SA (GSA), sê weens die druk waaronder finansiële markte verkeer, is daar talle wisselkoersbewegings wat dié bedryf direk raak. Invoer- en uitvoerpariteitspryse verander gevolglik. Hy sê handel word ook geraak. Volgens Strydom is aktiewe bestanddele in die chemiese bedryf van Chinese en Europese oorsprong en vrae ontstaan nou of daar voldoende voorraad beskikbaar gaan wees en of daar groot logistieke uitdagings kan ontstaan. Hy sê dit is egter nog nie 'n krisis nie en slegs besprekings.

Die sprinkaanplaag wat op enkele plase in die Richmond- en Hanover-gebiede in die Noord-Kaap en in Graaff-Reinet in die Oos-Kaap voorgekom het, is doeltreffend beheer. Dit is volgens Danie Jacobs, voorsitter van Agri Noord-kaap se komitee vir omgewingsake, nadat sprinkane op onder meer 'n plaas in die Richmond-gebied in grasvelde ingevaar het. Jacobs sê sprinkaanuitbrekings kan in vroeë stadiums - nadat dit uitgebroei het - met die korrekte chemiese beheermaatreëls uitgeroei word. In dié geval is die nodige gifstowwe, wat deur die regering voorsien is, toegedien. Hy sê sprinkane kan steeds beheer word in die vyfde stadium van ontwikkeling, wat die sogenaamde "rooi baadjie" fase is, wanneer dié insekte nog voetgangers is. Sodra hulle begin vlieg, is dit moeiliker om die insekte te beheer. Volgens Jacobs is dit noodsaaklik dat boere, wat as sprinkaanplaagbeamptes optree, die nodige ervaring en kundigheid het ten opsigte van die toediening van gifstowwe. Kursusse is al in Hotazel en Upington aangebied en vind Donderdag in Postmasburg plaas.

EN

OFM moedig luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte, wat ten doel het om landbougemeenskappe te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland en in ander provinsies kan verkry en skenkings kan doen. Skakels van organisasies, soos Boere Droogte Hulp SA se droogteramphulpfonds, is op hierdie OFM-blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad.  


OFM-nuus

 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.