Agriculture
Landbounuus-podcast: Agri Noord-Kaap bekommerd oor provinsie se ekonomie─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:53 Tue, 10 Dec 2019
Agri Noord-Kaap gaan aanhou om druk op die regering te plaas om die ekonomie van dié droogtegeteisterde provinsie te stabiliseer.
Indien die Noord-Kaapse ekonomie platval, gaan dit 'n reuse-impak op landelike gemeenskappe hê. Só sê Nicol Jansen, Agri Noord-Kaap se president, wat op dié organisasie en GWK se "Net 'n Druppel" inisiatief die media na boere in onder meer die Van Wyksvlei-distrik vergesel het. Dié inisiatief het ten doel om boere se nood in terme van droogte te beklemtoon. Volgens Jansen is landelike gemeenskappe grootliks afhanklik van die landboubedryf. Hy sê die regering moet die ekonomie in stand hou. Jansen sê nie slegs plattelandse gemeenskappe nie, maar ook die waardeketting word negatief deur die droogte geraak.
Agri SA het die parlementêre ad hoc-komitee, aan wie die taak opgelê is om Artikel 25 van die Grondwet te wysig wat voorsiening maak vir grondonteiening sonder vergoeding, skerp gekritiseer. Dié organisasie is ontevrede oor die openbare konsultasieproses. Hoof van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid vir grond, Annelize Crosby, sê dié komitee het nie voorsiening gemaak vir behoorlike openbare deelname in verband met die konsepwetsontwerp nie. Sy sê Agri SA het gevra die publisering daarvan moet uitgestel word tot ná Desember vanjaar, maar dié versoek is nie toegestaan nie. Piere Vercueil, waarnemende president van Agri SA, sê die grondwetwysiging bly 'n uitdaging. Alles word in die stryd gewerp om regsopsies te oorweeg. Die voorgestelde wysiging is vroeër vandeesmaand deur dié komitee aan die koukusse vir oorweging voorgelê waarna die wysigingswetsontwerp vir openbare kommentaar gepubliseer word. 'n Tweede publikasie sal in Januarie volg.
EN
'n Opkomende boer van die plaas Kranshoek by Griekwastad, Frank du Toit, sê dit is moeilik om te oorleef in die droogtetoestande. As dit nie binnekort goed reën nie gaan hy sy plaashekke moet sluit en aftree. Du Toit, wat met skape en bokke boer, sê hy het slegs 9mm reën vanjaar op sy plaas gemeet. Dít ondanks die feit dat dit Maandag in dié distrik goed gereën het met boere wat tussen 25mm en 50mm reën gehad het. Die reën het kol-kol voorgekom en dit het nie op Du Toit se plaas gereën nie. Hy sê dit is moeilik om sy plaaswerkers te vergoed, maar sy kinders ondersteun hom. Ricardo Block, 'n plaaswerker, sê hulle is in 'n penarie.
OFM-nuus