Local News
Tuinwerker in hof vir moord op afgetrede Kakamas-boer─── CHRISTAL-LIZE MULLER 09:45 Thu, 09 Nov 2017
'n Tuinwerker in sy laat twintigs, wat daarvan verdink word dat hy sy werkgewer, 'n afgetrede boer wat in Kakamas bly, met 'n mes doodgesteek het, sal na verwagting môre in die plaaslike landdroshof verskyn.
Dit kom nadat die 64-jarige Jan Hough se lyk gister omstreeks 11:00 in 'n oop stuk veld naby Spieëlkop by Kakamas gekry is. Hy was ten volle geklee en was reeds dood. Hough het steekwonde in die kop en agter in sy nek gehad. Polisiewoordvoerder, Francois Steenkamp, sê Hough het gister omstreeks 07:00 met sy bakkie gery om sy werker in Langverwag buite die dorp te gaan haal. Hy het daarna nie na sy huis op die dorp teruggekeer nie. Kakamas het ‘n hegte gemeenskap en iemand wat Hough ken, het die verdagte in sy bakkie sien rondry. Hy het die verdagte voorgekeer, waarna die 29-jarige man weggehardloop het. Volgens Steenkamp was daar rooi vlekke, vermoedelik bloed, aan die verdagte se hemp. Die polisie is ontbied.
Steenkamp sê volgens inligting het die verdagte sonder ‘n hemp by die persoon aangekom aan wie hy gesê het dat hy ‘n boer vermoor het. Daar was ook bloed aan die verdagte se lyf. Hough se vermeende moordenaar is omtrent dieselfde tyd as wat sy lyk in ‘n uitgestrekte stuk veld gekry is, naby sy huis in Langverwag in hegtenis geneem.
Volgens Steenkamp het die gemeenskap nou saam met die polisie in die soektog na die vermiste Hough gewerk. Die soektog het by die verdagte se huis naby die stortingsterrein begin. ‘n Helikopter is ook gebruik. Hough se lyk is sowat 5km van die plek waar sy bakkie gekry is, gevind.
Die motief vir die moord is onbekend.
OFM-nuus