Local News
NWU hou sosiale media bewusmakingsveldtog─── DANE BEISHEIM 09:14 Wed, 17 May 2017
Die Noordwes-Universiteit het gister ‘n bewusmakingsveldtog gehad om studente sowel as personeel te bemagtig rakende sake van vryheid van spraak op sosiale media.
Dit is volgens Michelle Bownes, die waarnemende bestuurder van die NWU se Studente-dissipline en Nakomingsvereistes-kantoor. Bownes sê die besluit om so ’n veldtog te loods is geneem omdat daar ‘n tendens onder studente opgemerk is waar hulle nie weet watter uitlatings hulle op sosiale media kan maak nie. Sy sê dit het dikwels ‘n rasse-ondertoon en gee aanstoot. Hulle is ook onkundig oor die gevolge van sulke uitlatings.
“Die universiteit wil graag hê hulle (studente) moet hul fundamentele reg tot vryheid van spraak vrylik uitoefen, maar onthou dat dit binne sekere beperkings is,” voeg Bownes by.
“Deel van die portefeulje van hierdie kantoor is bewusmaking onder studente. Ons het ‘n onderrigtaak om studente te bemagtig om te weet wat hul regte is.”
Die sosiale media kenner, Emma Sadleir, was die gasspreker tydens die geleentheid. Daar was ook lede van die universiteit se Institusionele Bestuur wat studente toegespreek het, sowel as lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se provinsiale en nasionale kantore en die plaaslike Landdroshof.
Bownes sê dat haar kantoor van voorneme is om in die toekoms meer sulke geleenthede op al drie die kampusse van die universiteit te hou, wat ander onderwerpe sal aanspreek.
OFM-nuus