Local News
Nadoodse ondersoek volg op skrywer se dood─── CHRISTAL-LIZE MULLER 12:16 Wed, 03 May 2017
Bloemfontein - Die bekroonde Afrikaanse skrywer, Karel Schoeman, ‘n boorling van Trompsburg, Vrystaat, wat gisteroggend in die Noorderbloem-aftreeoord in Bloemfontein dood aangetref is, was 'n private mens wat verkies het om per e-pos te kommunikeer.
Schoeman het voor sy dood in 'n brief met die opskrif "Verklaring" geskryf, oor sy plan om sy lewe “betyds te beëindig of te probeer beëindig”.
Carl van Rensburg van Rosendorff Reitz Barry sê 'n brief, wat op 27 April deur die 77-jarige Schoeman onderteken is, is 'n dag daarná in 'n koevert by dié firma afgelewer. Van Rensburg was toe nie op kantoor nie en het gisteroggend nadat hy van Schoeman se dood via iemand van die aftreeoord verneem het, eers die brief gelees.
Van Rensburg sê dit was Schoeman se versoek dat hy die "Verklaring" beskikbaar moet stel as iemand "wil weet hoe hy dood is".
Volgens hom sal 'n nadoodse ondersoek gedoen word waarná die boedelberedderingsproses kan begin.
"Die dokter het bevestig dat hy (Schoeman) aan onnatuurlike oorsake dood is. Daar sal nou vasgestel moet word (in die nadoodse ondersoek) hoe hy homself om die lewe gebring het," sê Van Rensburg.
In die brief skryf Schoeman hy het genoeg van "veroudering en ouderdom meegemaak" om seker te wees dat hy self nie oud wil word nie.
Hy skryf verder dat hy 'n paar jaar gelede, toe hy 75 was, probeer het om sy lewe te beëindig, maar dit is "deur omstandighede gefnuik”. In sy brief meld hy: “Kragtens die huidige Suid-Afrikaanse wetgewing is dit moontlik om die beëindiging van die eie lewe in sekere mate te beheer deur met behulp van 'n sg. "lewende testament" by voorbaat alle hulp te weier wat die mediese beroep normaalweg in geval van 'n lewensgevaarlike toestand sou wil aanwend”.
Schoeman skryf dat hy by gebrek aan menswaardige alternatiewe aanvanklik besluit het om van drank en voesel af te sien en die lewe “deur 'n proses van versterwing te beëindig.” Dit is volgens hom 'n uitgerekte vorm om te sterf wat nie sonder ongemak of pyn is nie. Met die nodige kennis of kontakte kon hy egter selfs binne die huidige beperkings ‘n ander uitweg vind waarvan hy sê hy uiteindelik met die nodige dankbaarheid gebruik kon maak.
Hy skryf verder, die besluit om selfmoord te pleeg is 'n hoogs persoonlike saak wat hy nie "blindeling wil aanbeveel nie".
Schoeman wou hê dat sy dood daartoe sal bydra om sowel die wensenlike probleem van ouderdom as die algemene kwessie van selfbeskikking meer algemeen bespreekbaar te maak. Hy sluit af: "So is dit genoeg."
Volgens Van Rensburg het Schoeman oor die jare verskeie opdragte aan hom gegee, onder meer dat daar geen seremonie na sy dood gehou moet word nie. Hy wil veras word en het aan Van Rensburg opdrag gegee dat Van Rensburg sy as iewers moet strooi. Dit sal wees op ‘n plek “waaroor ek nog moet besluit,” sê Van Rensburg.
Schoeman het verskeie boeke geskryf, onder meer romans, nie-fiksie, geskiedkundige en biografiese werke, en het verskeie letterkundige eerbewyse ontvang. Hy het ook verskeie vertalings gepubliseer (veral van dramas, reisboeke en ‘n outobiografie. Hy het die Hertzogprys drie keer ontvang: in 1971 (vir By Fakkellig, ’n Lug vol helder wolke and Spiraal), 1986 (’n Ander land) en in 1995 (Hierdie lewe).[1] Tydens die aftrede van oudpresident Nelson Mandela in 1999, was Schoeman een van twee skrywers wat die Staatspresident-eerbewys vir uitmuntende diens ontvang het.
(Bron: Wikipedia)
- OFM News