On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Local News

Nadoodse ondersoek op gestroopte NW-renosters gedoen

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:53 Thu, 10 Mar 2016

Nadoodse ondersoek op gestroopte NW-renosters gedoen | News Article
Gallo images

Mahikeng - ‘n Nadoodse ondersoek word uitgevoer op twee renosterkoeie wat vroeër die week in die Mafikeng Private Natuurreservaat in Noordwes van hul horings gestroop is.


Bestuurder van die reservaat, Louis Coetzee, sê die jong renosters, onderskeidelik ses en vier jaar oud, se karkasse is langs mekaar naby ‘n grensdraad langs ‘n openbare pad gevind. Hy sê ‘n lid van die publiek het hom gisteroggend gebel oor die karkasse. Volgens hom is ‘n .375-geweer gebruik om die diere dood te skiet. Die patroonpunte sal vir forensiese ontleding gestuur word.

DNA-toetse word gedoen en weggestuur na Onderstepoort. Dit word gehou vir ‘n DNA-databasis van renosters. Die patroonpunte sal aan die polisie oorhandig word vir forensiese toetse. Hy sê die punte kan moontlik gekoppel word aan ander soortgelyke misdrywe.

Coetzee sê die omheining is op een plek geknip en dit is onduidelik of die stropers deur dié opening toegang tot die reservaat verkry het of daardeur op die vlug geslaan het. Daar is ook geen voetspore sigbaar nie, omdat dit die vorige nag gereën het. Hy sê vier renosters, almal koeie, is sedert Desember verlede jaar in die Mafikeng-reservaat gestroop.

Coetzee sê dit is ook onduidelik of die renosters Maandag- of Dinsdagnag geskiet is. Die reservaat word deurgaans gepatrolleer, maar weens ‘n tekort aan mannekrag en toerusting is dit ‘n byna onmoontlike taak om stropers uit te hou, sê hy. ‘n Saak is by die polisie geopen.

In 2015 het stropers 1 175 renosters in Suid-Afrika doodgemaak.

OFM-nuus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.