On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Hamas-leier wil wapenstilstand hê, sê bemiddelaars, maar Netanyahu …

───   06:00 Mon, 12 Aug 2024

Hamas-leier wil wapenstilstand hê, sê bemiddelaars, maar Netanyahu … | News Article
Netanyahu gaan vandeesweek erge druk van die VSA ondervind om in te stem tot ’n wapenstilstand. Foto: X

“Saterdag se lugaanval is deur Westerse en streeksmoondhede gekritiseer. Egipte sê dit wys Israel het geen begeerte om ’n wapenstilstand te bereik of die Gasa-oorlog te beëindig nie.”

Hamas-leier Yahya Sinwar wil ’n skietstilstand-ooreenkoms hê. 

Dit is die boodskap wat Egiptiese en Katariese bemiddelaars die laaste dae aan Israeliese amptenare oorgedra het voor ’n kritieke beraad later vandeesweek, het ’n Israeliese bron gesê wat vertroud is met die saak.

Of Benjamin Netanyahu, Israel se premier, een wil hê, is egter onseker.

‘Niemand weet wat Bibi wil hê nie’

CNN berig Netanyahu se bondgenote het aan joernaliste en ander regeringsamptenare gesê dat hy gereed is om ’n ooreenkoms aan te gaan, ongeag die impak op sy regerende koalisie. Die Israeliese veiligheidsinstelling is egter meer skepties oor Netanyahu se gewilligheid om ’n ooreenkoms aan te gaan weens hewige teenkanting van verregse ministers in sy koalisie.

“Niemand weet wat Bibi wil hê nie,” het een Israeliese bron gesê en Netanyahu se bynaam gebruik. Wat wel duidelik is, is dat Netanyahu vandeesweek erge druk van die VSA gaan ondervind om in te stem tot ’n wapenstilstand en gyselaarsvrystellingsooreenkoms.

Amerikaanse amptenare het dit duidelik aan hul Israeliese eweknieë gestel dat hulle glo dit is nou die tyd vir ’n wapenstilstandooreenkoms om ’n wyer oorlog in die streek te vermy. Die Forum vir Gyselaars en Vermiste Gesinne, ’n kragtige stem in Israel, het ook ’n beroep op Israel en Hamas gedoen om ’n ooreenkoms te finaliseer.

Adj.pres. Kamala Harris het die verlies van burgerlike lewens in ’n Israeliese lugaanval Saterdag op ’n skoolgebou in Gasa veroordeel. Meer as 70 mense is dood in die hospitaal waar ontwrigte Palestyne gehuisves is, het die direkteur van ’n hospitaal aan die BBC gesê.

Harris het gesê “gans te veel” burgerlikes is “weereens” vermoor. Sy het versoeke herhaal vir ’n gyselaarsooreenkoms en ’n wapenstilstand, wat die eise van die Withuis weerspieël.

’n Israeliese militêre woordvoerder het gesê die al-Taba’een-skool “dien as ’n aktiewe Hamas en Islamitiese Jihad militêre fasiliteit”, wat Hamas ontken.

Tydens ’n veldtoggeleentheid in Phoenix, Arizona, het Harris gesê Israel het die reg om “na Hamas te gaan”, maar het ook ’n “belangrike verantwoordelikheid” om burgerlike ongevalle te vermy. Die Demokratiese Party se presidensiële kandidaat het ook oproepe vir ’n wapenstilstand en ’n gyselaarsooreenkoms herhaal.

Saterdag se lugaanval is deur Westerse en streeksmoondhede gekritiseer, met Egipte wat gesê het dit wys Israel het geen begeerte om ’n wapenstilstand te bereik of die Gasa-oorlog te beëindig nie.

‘Oorskot moeilik uitkenbaar weens erge verminking’

Fadl Naeem, hoof van die al-Ahli-hospitaal waar baie van die beseerdes geneem is, het gesê sowat 70 slagoffers is tot dusver geïdentifiseer. Die oorskot van baie ander is egter moeilik uitkenbaar weens erge verminking.

Israel se weermag het gesê hulle het “met presisie op Hamas-terroriste toegeslaan wat in ’n Hamas-beheersentrum in die al-Taba’een-skool ingebed was”.

’n Verklaring deur die Israeliese Weermag (IDF) en die Israeliese Veiligheidsagentskap het gesê “minstens 19 Hamas- en Islamitiese Jihad-terroriste” is in die aanval “uitgeskakel”.

Adm. Daniel Hagari, IDF-woordvoerder, het gesê “verskeie bronne van intelligensie” dui op ’n “hoë waarskynlikheid” dat die bevelvoerder van die Islamitiese Jihad se sentrale kampe, Ashraf Juda, by die Taba’een-skool was toe dit getref is. Hy het gesê dit is nog nie duidelik of die bevelvoerder in die aanval dood is nie.

Vroeëre ramings was ook dat meer as 60 mense in dié aanval dood is. Die Hamas-beheerde ministerie van gesondheid se ambulansdiens sê meer as 60 mense is dood. Die burgerlike verdedigingsagentskap het die getal op meer as 90 geskat.

OFM Nuus cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.