On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

International

Beroep op Biden gedoen om presidensiële wedloop te laat vaar

───   08:55 Fri, 12 Jul 2024

Beroep op Biden gedoen om presidensiële wedloop te laat vaar | News Article
George Clooney en Joe Biden. Skermgreep: Yahoo

“Ek is lief vir Joe Biden,” het Clooney gesê. “Ek beskou hom as ’n vriend en ek glo aan hom... Maar die een stryd wat hy nié kan wen nie, is die stryd teen tyd.”

Senior Demokrate het opnuut pres. Joe Biden van Amerika versoek om die presidensiële wedloop te laat vaar ná verskeie flaters Donderdag op ’n mediakonferensie tydens ’n Navo-beraad.

Nadat Biden Wolodimir Zelenski van Oekraïene as “President Poetin” voorgestel het, het hy Kamala Harris “visepresident Trump” genoem.

Die Amerikaanse president het die flater juis gemaak op ’n mediakonferensie waarmee hy probeer het om die Demokrate se vrese oor sy herverkiesing te bekamp.

Jim Himes, die top-demokraat in die huis se intelligensiekomitee, het ’n beroep op Biden gedoen om plek te maak vir ’n “jonger opvolger” net oomblikke nadat hy klaar gepraat het en sy redes aan CNN verduidelik.

Biden moet sy “nalatenskap” beskerm en is nie die “sterkste kandidaat” om Donald Trump in November se verkiesing aan te vat nie, het hy gesê en hom aangespoor om “ons nasie eerste te stel”.

George Clooney – ’n lid van die Hollywood-elite wat steun aan die Demokrate bied – het by ’n groeiende lys openbare figure aangesluit wat Biden (81) versoek om opsy te staan ná sy twyfelagtige debatoptrede verlede maand teen Trump.

“Ek is lief vir Joe Biden,” het Clooney in The New York Times geskryf. “Ek beskou hom as ’n vriend en ek glo in hom ... Maar die een stryd wat hy nié kan wen nie, is die stryd teen tyd.”


Met Biden het die Oscar-wenner gesê gaan Demokrate “nie in November wen nie”, beheer oor die senaat verloor en nie ’n meerderheid in die huis van verteenwoordigers kry nie.

“Dit is nie net my mening nie; dit is ook die mening van elke senator, kongreslid en goewerneur met wie ek gepraat het,” sê Clooney.

“Dit gaan oor ouderdom. Niks meer nie. Maar ook niks wat omgekeer kan word nie.”

‘Nie ’n persoonlikheidskultus nie’

Clooney het by kritici aangesluit wat die Demokrate se huiwering om Biden te laat vaar, vergelyk het met die Republikeinse Party se onwrikbare lojaliteit aan Trump.

“Ons Demokrate salf nie leiers of val vas in ’n persoonlikheidskultus nie; ons stem vir ’n president.”  


Die Withuis het Maandag ontken dat hy Parkinson se siekte het ná 'n rampspoedige debatprestasie.

Trump was ongewoon stiller as gewoonlik sedert die debat, maar hy het Maandag op Fox News gepraat om te sê hy dink Biden sal die druk weerstaan en in die wedloop bly.

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.