On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

International

LGBTQI+-oorwinning in Namibië in volkleur gevier

───   07:39 Sun, 23 Jun 2024

LGBTQI+-oorwinning in Namibië in volkleur gevier | News Article
Dit gaan oor liefde, eenheid, veerkragtigheid, sigbaarheid, aanvaarding en saamstaan. Foto: Facebook

“Dit is ’n wonderlike dag vir Namibië.”

Reënboogvlae waai die naweek wêreldwyd tydens vieringe van eenheid en liefde ná ’n langverwagte hofuitspraak oor aanvaarding in Namibië. LGBTQI+-gemeenskappe regoor die wêreld het gewys dit gaan nie net oor reënboë nie – dit gaan oor liefde, eenheid, veerkragtigheid, sigbaarheid, aanvaarding en saamstaan. 

Namibiese lesbiese, gay, biseksuele, transgender, interseksuele (LGBTQI+) en ander menseregte-organisasies vier die geskiedkundige uitspraak deur die Namibiese Hooggeregshof Vrydag, wat die “gemeenregtelike misdrywe van sodomie en onnatuurlike seksuele misdrywe” ongrondwetlik en ongeldig verklaar het.

Hierdie uitspraak volg op ’n aansoek deur die aktivis Friedel Dausab om hierdie sogenaamde misdrywe, tesame met die statutêre bepalings daarvan, as ongrondwetlik te verklaar. 

Die hof se bevinding spruit uit ’n aansoek wat deur Friedel Dausab, ’n Namibiese man, ingedien is, wat aangevoer het dat die kriminalisering van verhoudings met dieselfde geslag en ander seksuele gedrag, wat as onnatuurlik geag word, inbreuk maak op burgers se fundamentele regte en vryheid, en onbillike teen hulle diskrimineer.

Dit is ’n monumentale oorwinning vir dié gemeenskap in Namibië en baan die weg vir ’n meer inklusiewe en regverdige samelewing.

Namibiese burgerregte-organisasies het onderneem om aktief met die regering van Namibië saam te werk om te verseker dat hierdie uitspraak doeltreffend geïmplementeer word en dat verdere maatreëls getref word om die belangrikheid en beskerming van die regte van alle individue in Namibië uit te lig.

“Ons betuig ons innige dank aan Friedel Dausab vir sy moed en veerkragtigheid om hierdie onderdrukkende wette uit te daag,” sê Linda Magano Baumann, strategiese koördineerder van Namibië se Diverse Vrouevereniging (NDWA). “Sy oorwinning is ’n baken van hoop en 'n kragtige herinnering dat geregtigheid en gelykheid bereikbaar is deur volharding en die oppergesag van die reg.


“Hierdie geskiedkundige uitspraak maak nie net verouderde en diskriminerende wette ongeldig nie, maar bevestig ook die fundamentele regte wat in ons Grondwet verskans is. Dit is 'n belangrike stap in die rigting van die uitskakeling van die stigma en diskriminasie wat LGBTQI+-individue al dekades in die gesig gestaar het,” sê Baumann.

Prokureur-generaal Festus Mbandeka, wat Dausab se aansoek namens die regering teëgestaan het, voer aan dat openbare sentiment in Namibië nie ontwikkel het tot die punt waar wetgewers gereed was om wette teen homoseksualiteit te herroep nie, en dat grondwetlike beskerming teen diskriminasie nie uitdruklik die seksuele oriëntasie dek nie.

Die regering oorweeg die uitspraak en het nog nie besluit of hulle gaan appelleer nie, sê Gladice Pickering, die Ministerie van Justisie se uitvoerende direkteur.


“Dit is goed vir jong LGBTQI+-mense om te weet dat hul liefde nie ’n misdaad is nie,” het Dausab ná die uitspraak gesê. “Dit is ’n wonderlike dag vir Namibië.”

OFM Nuus cg



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.