On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Argeoloë ontdek tonnel onder antieke Egiptiese tempel

───   07:57 Thu, 10 Nov 2022

Argeoloë ontdek tonnel onder antieke Egiptiese tempel | News Article
Die tonnel onder 'n Egiptiese tempel wat dalk na Cleopatra se graf kan lei. FOTO: Egyptian Ministry of Tourism and Antiquities

Die tonnel, van 1,3km lank wat meer as 13m ondergronds geleë is, is deur Egiptiese owerhede as 'n "geometriese wonderwerk" wat tot Cleopatra se laaste rusplek kan lei, beskryf.

Argeoloë in Egipte het 'n tonnel naby die stad Alexandrië ontdek en hoop dat dit hulle na die langverlore graf van Egipte se laaste farao en moontlik sy bekendste heerser, koningin Cleopatra VII, kan lei.

Egipte se Ministerie van Toerisme en Oudhede sê die tonnel is uit rotse onder die antieke Taposiris Magna-tempel gekerf.

Die opgrawing is deur 'n Dominikaans-Egiptiese argeologiese sending van die Universiteit van San Domingo uitgevoer.

"Dit is die perfekte plek vir die graf van Cleopatra," sê dr. Kathleen Martinez, wat aan die hoof van die gesamentlike sending staan.

"As daar 'n een persent kans is dat die laaste koningin van Egipte daar begrawe is, is dit my plig om na haar te soek," sê sy.

Cleopatra was die koningin van die Ptolemeïese koninkryk van Egipte vanaf 51 vC tot haar dood in 30 vC, toe Rome die land oorgeneem het. Haar dood was ook die einde van die Hellenistiese tydperk.

Die liefdesverhoudings en magstryde wat sy met die Romeinse diktator Julius Caesar en die Romeinse politikus Markus Antonius gevoer het, het 'n beduidende impak op die verloop van die Egiptiese en Romeinse geskiedenis gehad, met laasgenoemde wat deur William Shakespeare in sy toneelstuk Antony and Cleopatra verewig is.

"Dit is die eerste keer dat ‘n argeoloog tonnels en ondergrondse gange binne die omheinde mure van die tempel vind," sê Martinez. “As die ontdekking wel na Cleopatra se graf lei, dit die belangrikste ontdekking van die 21ste eeu."

Sy werk al meer as 15 jaar by die Taposiris Magna-tempel op soek na die verlore graf.

Daar is gevind dat 'n deel van die tonnel onder water gedompel is, wat 'n teorie ondersteun wat sê dat die tempel se fondamente ook onder water is weens minstens 23 aardbewings wat die gebied tussen 320 en 1303 nC getref het.

Martinez se span het tydens hul onlangse sending verskeie noemenswaardige artefakte onder die tempel opgegrawe, insluitend munte met die name van koningin Cleopatra en Alexander die Grote, sowel as antieke standbeelde van die Egiptiese godin Isis.

Vorige opgrawings op die terrein het ook mummies met goue tonge opgelewer en 'n begraafplaas wat mummies bevat wat na die tempel kyk, albei tekens van 'n koninklike graf wat naby geleë is, volgens Martinez.

Egipte se bekendste argeologiese vonds tot op hede word deur baie beskou as die graf van koning

Toetankamen, wat 100 jaar gelede opgegrawe is.

As Cleopatra se graf gevind word, kan dit verander.

Smithsonian Magazine

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.