International
Noord-Kaapse gesin ervaar Engeland se erge hittegolf─── HEIDRÈ MALGAS 11:37 Fri, 22 Jul 2022
Noord-Kapenaars, wat sowat ‘n maand gelede na Lichfield in Engeland getrek het, vertel hoe die hitte wat hulle daar ervaar het die afgelope week, almal op hol gehad het.
Réhet Fouche en haar gesin het van Kuruman na Engeland getrek, waar hulle ook pas die hittegolf ervaar het.
“As iemand van die Noord Kaap, wat kén van hitte, het ons tot in die aande onder nat handoeke gelê voor die waaier. Die hotel waar ons bly, het glad nie lugreëling nie en ons bly op die boonste vloer. Ons het behoorlik uitgekook,” het sy gesê.
Sy vertel die hoogste temperature dié week was op die 18de, en 22:00 die aand was dit steeds 34°C. “Hier en daar het ek gesien dit is 37°C, maar weer gesê - dis die bedompigheid wat dit vir my erger gemaak het, die vreeslike ongemaklike gevoel,” het sy gesê.
Fouche sê die "gewone" somerweer is heerlik, net gemaklik, hanteerbaar. “Dit voel vir my of ek by die see is, daai bedompige hitte wat 'n mens heeltyd taai of nat laat voel - nie die droë benoude hitte nie,” het sy vertel.
Sy vertel in die aande het hulle amper glad nie afgekoel tydens die hittegolf nie, dit was moeilik om gemaklik te slaap en rustig te wees.
Sy vertel verder dat die son omtreeks 04:30 begin opkom en 22:00 eers sak. “Ek kan verstaan hoekom die hittegolf vir die Britte so erg is, want dit is baie anders as die weer waaraan hulle gewoond is. Amper dubbel die gemiddelde temperature. Ek weet party skole en werke het vir 'n dag of twee gesluit,” het sy gesê.
"Die voordeel is dat dit gelukkig baie gou oor en verby was, en nou is dit weer lekker koel."