On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Inspiration

Herwinning: Wees dié Kerstyd deel van die oplossing

───   ZENANDE MPAME 14:06 Thu, 12 Dec 2024

Herwinning: Wees dié Kerstyd deel van die oplossing | News Article
Herwinning: Wees dié Kerstyd deel van die oplossing. Foto: iStock

Desember is ’n goeie tyd om kaste, lêers en skoenbokse skoon te maak wat die hele jaar stof vergader het.

Die meeste Suid-Afrikaners is goed daarmee om papier, plastiek, glas en metaalitems te herwin, maar is dikwels onbewus van watter soort geskenkpapier en inkopiesakke herwin kan word.

In ’n onlangse peiling deur die Vereniging van Papiervervaardigers van Suid-Afrika (Pamsa) het 39% van die deelnemers aangedui hulle herwin hul papier- en kartonprodukte gereeld, terwyl 36% gesê het hulle doen dit af en toe.

Stortingsterrein kreun dié tyd van die jaar onder afval, maar mense kan vanjaar ’n verskil maak “herwinningsgees” te vang, sê Samantha Choles, Pamsa-kommunikasiebestuurder.

Mense kan hul koeldrankbottels herwin. Foto verskaf

“Van geskenkpapier tot kartondose en inkopiesakke, verskeie produkte kan hierdie Desember ’n tweede lewe kry.”

Hier’s raad oor wat herwin kan word en wat ongelukkig ashoop toe moet gaan.

Herwinbaar:

  • papiergeskenkpapier, sonder kleefband;
  • kartondose, van al die aanlyn geskenkaankope;
  • papierinkopiesakke;
  • papierverpakking vir graankos, tandepasta, medisyne en skoonheidsmiddels; en
  • papierbekers vir koffie en koeldrank.

Nie herwinbaar nie:

  • foeliegeskenkpapier en bokse met foelie gevoer;
  • wasbedekte of gelamineerde bokse soos bevrore kosbokse;
  • servette, papierhanddoeke, toiletpapier en sneesdoekies;
  • sement- en hondekossakke; en
  • weggooidoeke.

Foelie geskenkpapier en foelie gevoerde bokse is nie herwinbaar nie. Foto: iStock

“As ’n mens herwin, verklein jy nie net jou afvalvoetspoor nie en hou papierprodukte weg van stortingsterreine nie, maar jy kan ook afvalversamelaars ondersteun deur te verseker dat jou herwinbare items skoon en geskei is,” sê Choles.

“Die herwinningsbedryf in Suid-Afrika is ’n groot bydraer tot die ekonomie. Dit skep broodnodige werksgeleenthede, veral in die informele sektor, waar afvalversamelaars en herwinners ’n sleutelrol speel in die insameling, sortering en hergebruik van herwinbare materiaal.”

Nuwejaar is om die draai. Dis die perfekte tyd om ’n herwinningsvoorneme te maak waarmee jy sal kan volhard, sê sy.

Servette en papierhanddoeke is nie herwinbaar nie. Foto verskaf

Feestelike wenke: 

  • Moenie jou papier met ander herwinbare materiale meng nie.
  • Kry vir jou ’n asblik, boks of sak vir jou papierherwinning.
  • Leer wat herwinbaar is en wat nie.
  • Besluit wat jy met jou papierherwinning gaan doen.
  • Maak seker dat jy dit op ’n plek hou waar dit skoon en droog kan bly.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.