On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Inspiration

Vertaler se geloofspad met Andrew Murray begin al op Hopetown

───   MORNÉ VAN ROOYEN 17:28 Sat, 22 Apr 2023

Vertaler se geloofspad met Andrew Murray begin al op Hopetown | News Article
Dr. Leon Venter en sy vrou, Renda.

In 1974 het ’n 14-jarige skoolseun van Hopetown in die Noord-Kaap tot bekering gekom. Dit was die eerste tree op ’n geloofspad wat pas gelei het tot die verskyning van een van ds. Andrew Murray se tydlose werke in hedendaagse Afrikaans.

Dr. Leon Venter, die vertaler en verwerker van Nuwe lewe vir volgelinge van Christus, sê vandag nog help dié geliefde skrywer om sy geloofslewe te verryk en sy binnelewe te verdiep.

Saam met sy bekering byna 50 jaar gelede het hy ’n diep geloofsontwaking beleef en ’n roeping ontvang om predikant te word. “Ek het eenvoudig alle Christelike boeke waarop ek my hand kon lê, verslind en ’n ywerige Bybelstudent geword.”


Omstreeks 1976 of 1977 het hy die dagboek Die Goddelike geheim present gekry, sy eerste kennismaking met dié invloedryke skrywer, wie se boeke in meer as 20 tale vertaal is en meer as 100 jaar ná sy dood steeds uitgegee word.

“Dié dagboek het die basis van my verstaan van die evangelie, van Jesus en van God die Vader en van die werk van die Heilige Gees gevorm, regdeur my lewe – nou nog. Sonder twyfel was dit vir baie jare die kosbaarste boek wat ek besit; vandag nog is dit so,” vertel Venter.

CLF gee Die nuwe lewe vir volgelinge van Christus uit.

Hy sê Murray is sy teologiese vader. “Ek verstaan sy gedagtegang … ek verstaan die manier waarop hy die Skrif hanteer, sy logiese helderheid, sy diep respek en liefde vir God, sy fokus op Skrifkennis en sy duidelike uiteensetting van diep teologiese waarhede.”

Boweal: “Hierdie diep nederigheid wat hy het en wat hy vir ons leer: dat ons kinders van God word deur geloof, deur te rus in wat Jesus gedoen het, want Jesus is ons Regverdiging, ons Heiliging, ons ontvang ’n nuwe lewe van Hom elke dag.

Dr. Leon Venter se eerste kennismaking met Andrew Murray was deur die boek Die Goddelike geheim in st. 9 of matriek. Toe hy op universiteit ’n eksemplaar raakloop, het hy dit vir sy sy vrou, Renda, gekoop en dié opdrag voorin geskryf.

“Andrew Murray skep dus vir my ’n geloofstaal. Dit is geloofstaal wat mense nie altyd maklik verstaan nie, maar ek ken ook baie mense wat hierdie geloofstaal van Andrew Murray verstaan en daaruit lewe.”

’n Ou werk kry nuwe lewe 

Die oorspronklike boek het in 1885 in Nederlands verskyn. Venter se vertaling en verwerking is gegrond op die Engelse vertaling van 1891: A new life: Words of God for young disciples of Jesus Christ.

Die Engelse vertaling bestaan uit 52 hoofstukke, een tema per week. Venter het die temas gehou, maar elkeen verwerk tot drie dagstukkies wat ’n eenheid vorm omdat hy meen mense lees deesdae korter dele en “omdat Andrew Murray se gedagtegang so kompak en geweldig ryk is”.


Hy sê dit is eintlik ironies dat Murray die boek geskryf het vir jong gelowiges, want “die teologiese en Skrifdiepte van die boek is alles behalwe elementêr. Dis ryk, dis geheimnisvol, dit het ’n baie diep teologiese inhoud, wat enige gelowige sal help om die diepte en die rykdom van die navolging van Jesus net beter te verstaan.”

Dr. Leon Venter het as 14-jarige skoolseun op Hopetown in die huidige Noord-Kaap tot bekering gekom. Dis sy matriekklas van 1977. Hy staan tweede van links in die derde ry.

Venter stem volmondig met die skrywer saam dat die leser elke hoofstuk drie maal moet lees omdat mense te oppervlakkig met geheimenisvolle geestelike waarhede omgaan. “Murray sê jy moenie dink as jy een keer iets gelees het dat jy dit verstaan nie. 

“Hy sê ook die tekste waarna verwys word, moet jy elkeen gaan lees, en onderstreep dit in jou Bybel. Jy moet dit biddend lees dat die Gees jou sal oortuig van die waarheid van die Woord en van die geestelike insig. Hy sê jy moet hierdie insigte jou eie maak. Jy moet dit met ander mense bespreek.”

Venter het geen twyfel dat dié boek gelowiges se geloofslewe sal verryk nie met temas soos “die geloofslewe van die Christen, versoekings, God die Vader, God die Heilige Gees, Jesus, sonde, gebed, nederigheid, geld en samekomste met ander Christene.”

Wat dit beteken om Jesus te volg

Hy sê uit ervaring weet hy baie gelowiges het diep geestelike ervarings, wyse insigte en grondige Bybelkennis, maar bitter min boeke bring hierdie insigte in een boek bymekaar. Nuwe lewe vir volgelinge van Christus is so ’n basiese opsomming van die Christelike lewe en wat dit beteken om Jesus te volg.

“As jy hierdie boek deurgewerk het … en jy het die Skrifgedeelte bestudeer wat hy vir jou gee, dan sal die Skrif vir jou oopgaan,” belowe die vertaler. “Jy sal dominees se boodskappe beter kan beoordeel en meer waarde daaruit kan haal.


“Jy sal mense dan ook beter kan begelei met wat die basiese geestelike insigte en waarhede van die evangelie en van die Bybel is. Jy sal ervaar dat mense na jou begin luister omdat jy sinvol oor die Bybel en die navolging van Jesus sal kan praat.”

Andrew Murray leer ’n mens om logies oor jou verhouding met God, Jesus en die Heilige Gees te praat en hoe om in ’n persoonlike verhouding met God te groei, meen Venter. Bowendien “leer hy jou om nie net hierdie wysheid en kennis te hê nie, maar ook om dit met nederigheid – in die wete jy het dit alles uit genade ontvang – aan mense oor te dra.”

’n Steeds dieper en ryker geloofslewe

Venter vertel hy het etlike jare lank aan ’n meesters- en toe doktorsgraad gewerk – akademiese werk. Hy was ook ’n tyd lank in die korporatiewe kant van die kerk werksaam by die Wes-Kaaplandse Sinode en Bybel-Media.

“Toe ek terugkom in die bediening – in 2021 in Graafwater in die Wes-Kaap – wou ek graag my basiese verstaan van die evangelie opskerp en my persoonlike verhouding met God verdiep. Dit was in ’n Covid-tyd, in ’n tyd van afsondering.

“So dit was ’n heerlike ryp tyd om daagliks ongestoord met hierdie ryke temas van Andrew Murray te werk. En dit is so diep bevestig weer dat my kindskap van God ’n gawe van God is, wat ek daagliks deur geloof van God ontvang.”


Hy vertel dit het hom opnuut bewus gemaak hoe ryk en heilsaam die Skrif is waardeur die Heilige Gees hom daagliks lei, versterk en verander om ál meer die beeld van Jesus te vertoon. “Ek is, terwyl ek met dié verwerking en vertaling besig was, so versterk in die basiswaarhede van die evangelie.

“Ek het net weer vir myself bevestig dat ek evangelies ingestel is, dat Jesus die Kern van ons geloof is. Sonder Hom is daar geen kerk nie, en ons taak is om Hom te verkondig.”

Venter sê dat die kerk deesdae “met allerhande dinge besig is, allerhande dinge doen en sê, en dikwels verdeeldheid en verwarring en spanning bring. En in dié tyd (is) die helderheid van Andrew Murray net baie versterkend.

“Dit help my steeds fokus in my bediening, in my prediking en in my … gesprekke met mense wanneer ek oor God en oor Jesus en oor geloof en oor navolging van Hom praat.”

Andrew Murray, ’n blywende gawe aan die kerk

Ds. Andrew Murray het na raming tot 240 boeke geskryf, waarvan 30 oor gebed handel. Hy was doelbewus nie ’n akademikus nie, maar vanweë sy skryfwerk het hy ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Aberdeen in Skotland ontvang.

“Andrew Murray was ’n absolute leier in die NG Kerk,” vertel Venter; “sy leierskap is wyd erken. Nie minder nie as ses keer is hy as moderator van die NG Kerk in die Kaap gekies. En luister hierna: Hy was 58 jaar in voltydse bediening!

“Wat my opval, is baie meer mense, ook dominees, bevestig in die openbaar Andrew Murray het ’n belangrike rol êrens in hulle geestelike vorming gespeel. Ek dink egter steeds dat ons maar ’n oppervlakkige waardering het van sy werk en van sy invloed op die spiritualiteit van gelowiges.

Die ou Sendinginstituut op Wellington is omskep in die Andrew Murray-spiritualiteitsentrum. Dis een van talle opvoedkundige geboue op dié Bolandse dorp wat deur sy toedoen opgerig is.

“Hy was ’n briljante prediker, ’n uitstaande leier, ’n motiveerder, ’n skrywer van formaat wat verhoudinge en vriendskappe regoor die wêreld gehad het. Meer as honderd jaar ná sy dood is sy invloed nog sterk.

“Dikwels word daar na hom verwys as iemand wat homself besig gehou het met binnekamerspiritualiteit, (maar) dat die kerk eintlik meer moet besig wees met geregtigheid in die wêreld – daar is daardie spanning. Ek is nie daar nie, maar ’n mens moet dit erken.

“Ek glo natuurlik dat ons nog van sy boeke in Afrikaans moet vertaal en verwerk, en ek hoop ons kry genoeg van hierdie boek verkoop dat die uitgewer bereid sal wees om nog van sy boeke uit te gee.”


OFM-nuus/Morné van Rooyen

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.