On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

Entertainment

Bederf jou kat met ekstra liefde op Wêreldkatdag

───   HEIDRÈ MALGAS 14:26 Thu, 08 Aug 2024

Bederf jou kat met ekstra liefde op Wêreldkatdag | News Article
Die Piek-familie se kat Milo. Foto: Morgan Piek

“Wêreldkatdag word jaarliks op 8 Augustus gevier. Dis in 2002 deur die International Fund for Animal Welfare gestig.”

Bederf jou kat op Wêreldkatdag met nuwe speelgoed, want katte hou daarvan om te speel – en dis wonderlik om hulle te sien speel met ’n nuwe interessante speelding.

Wêreldkatdag word jaarliks op 8 Augustus gevier. Dis in 2002 deur die International Fund for Animal Welfare gestig. Dit is ’n dag om bewusmaking vir katte te bevorder en maniere te verken om hulle te help en beskerm.

Een ware feit is dat Suid-Afrikaners dol is oor hul troeteldiere! Die meeste troeteldiereienaars het ’n hond of ’n kat, óf beide. Dis dus geen wonder dat katliefhebbers die kans aangryp om hul katte te bederf nie.

Die Piek-familie se kat, Archie. Foto: Morgan Piek

Hier is hoe:

Verbeter jou kat se speelplek. As jy ’n binnenshuise kat het, kry jy hom dalk jammer dat hy nie in die tuin kan rondhardloop, sy kloue teen boomstamme kan krap, of lui-lui op takke kan sit om die buitewêreld dop te hou nie. Jy kan die buitelewe binnetoe bring deur jou kat met ’n multivlak-katboom te bederf!

Beplan ’n katfotosessie. As jy daarvan hou om foto’s van jou gunstelingkat te neem, en waarskynlik meer kiekies van jou kat as van jou gesin het, hoekom vier jy nie jou pragtige troeteldier met ’n fotosessie nie?

Behandel hulle soos koninklikes. Wat sou Wêreldkatdag wees sonder lekker bederfies om jou kat soos ’n koninklike te laat voel? En heerlike, tuisgemaakte bederfies is altyd die beste.

Svetlana, Morné van Rooyen, OFM Nuus-redakteur, se kat, eet net blokkies, hoender en soms ’n leksel jogurt. Sy is gebore in ’n kolonie halfwilde katte in sy woonstelblok, maar het op vier maande die brandtrap uitgeklim en in sy woonstel (en hart) ingetrek. Foto: Morné van Rooyen.

’n Deskundige in die redding van katte, Marieke Bronner van Feral Cat Care in Bloemfontein, sê die redding van katte is baie bevredigend.

“Ek vang wilde katte, laat hulle deur ’n veearts steriliseer en bring hulle dan terug sodat hulle nie verder kan teel nie. Een wyfiekat kan elke twee maande kleintjies hê en uiteindelik met dertig katte per jaar sit,” verduidelik Bronner.

“Ons red ook babakatjies. Ons maak hulle groot van geboorte af tot hulle ongeveer sewe tot agt weke oud is, wanneer hulle self kan eet, water drink en ’n sandbak kan gebruik, en gereed is vir ’n nuwe huis.”

Sy sê die lekkerste ding van babakatjies grootmaak is wanneer hulle melk drink en hulle bottels styf vashou terwyl hulle oortjies van opgewondenheid beweeg.

Augustus en September is ook die tye wanneer katte dragtig is; dit staan bekend as “katjieseisoen”.


As jy lief is vir katte of graag een wil inneem, is hier ’n paar interessante feite oor katte wat jy waarskynlik nie geweet het nie:

  • Katte word beskou as die enigste soogdiere wat nie soetheid kan proe nie.
  •  Katte kan tot ses keer hul lengte spring.
  • Katte se rowwe tonge kan ’n been heeltemal skoon lek van enige vleis.
  • Manlike katte is meer geneig om linkspotig te wees, terwyl wyfiekatte meer geneig is om regspotig te wees.
  • Katte hou daarvan om op iets te slaap wat na hul eienaars ruik, soos hulle kussings en vuil wasgoed.
  • Katte val dikwels jou enkels aan wanneer hulle verveeld is.
  • ’n Huiskat kan ’n steratleet soos Usain Bolt in die 200 m-wedloop klop.
  • Katte droom, net soos mense.

Maak hierdie Wêredkatdag ekstra spesiaal vir jou geliefde kat! Vier die vreugde en geselskap wat jou kat in jou lewe bring deur hulle te bederf met iets waarvan hulle hou. Of dit nou ’n multivlak-katterak, ’n speelse legkaartvoerder of heerlike tuisgemaakte lekkernye is. Onthou, katte kan ook aangeneem word, so oorweeg dit om vandag vir ’n troeteldier ’n nuwe tuiste te gee.

OFM Nuus/Heidrè Malgas

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.