On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Geen vordering in ondersoek amper drie maande ná noodlottige N8-ongeluk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:41 Wed, 09 Apr 2025

Geen vordering in ondersoek amper drie maande ná noodlottige N8-ongeluk | News Article
Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan, verloor. Foto: Facebook/Martin Smit

Die pa wat sy twee seuns amper drie maande gelede in ’n motorongeluk verloor het, raak ál meer gefrustreerd omdat niemand nog aan die man gebring is nie.

Martin Smit, die pa van Ryan (6) en Ayden (8) wat op 24 Januarie in ’n ongeluk buite die stad oorlede is, het die polisie talle kere besoek en elke keer met meer vrae as antwoorde weggestap. 

Hul niggie Leané van Papendorp (8) is ook in die ongeluk dood. Nog ’n kind, Tennique Joubert (6), was ná die ongeluk byna twee weke in ’n koma in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein. Weens die erns van die impak moes Tennique se milt verwyder word, maar sy is ná 19 dae se behandeling ontslaan.

Ayden en Ryan. Foto verskaf

“Ek was Dinsdag (9/4) weer by die polisie en volgens hulle wag hulle steeds vir getuieverklarings, ’n doktersverslag van die nadoodse ondersoek en vir die dash cam-beeldmateriaal. Elke keer is daar net meer en meer inligting waarvoor hulle wag, maar die saak vorder nie,” sê Smit.

Die botsing het plaasgevind toe die bestuurder van ’n Hilux-bakkie na bewering ’n rooi verkeerslig verontagsaam het en in hul Chevy Spark vasgery het op die kruising van die N8 en Krugerlaan naby Aljo se Superspar.

‘Almal sê dit sal beter raak, maar inteendeel raak dit elke dag net erger’

Ryan en Leané is op slag dood, terwyl Ayden later in die hospitaal oorlede is nadat sy hart twee keer gaan staan het. Leané se ma, Adri Jonck, wat die Chevy Spark bestuur het, is ook in die ongeluk beseer, maar is kort daarna uit die hospitaal ontslaan.

Die bestuurder (19) van die Hilux het ’n sleepwa met swaar metaal daarop gesleep en het na bewering versuim om betyds rem te trap om die botsing te vermy.

“Elke dag is ’n lewende nagmerrie, hel op aarde. Almal sê dit sal beter raak, maar inteendeel raak dit elke dag net erger.

Klein Tennique terug skool toe ná botsing buite Bloemfontein | News Article

Tennique is weer terug by die skool. Foto verskaf

“Ek is selfs te bang om in die aande te slaap, want ek kry elke dag nagmerries van daai dag en my arme kinders oor hoe seer en bang hulle moes wees en pappa en mamma was nie daar nie. Om jou kinders dood in die pad teen ’n verkeerslig se randsteen te sien lê is ’n prentjie wat ek nooit sal kan vergeet nie. 

“Dis iets wat ek nie eens my ergste vyand toewens nie.” Smit sê die feit dat die ondersoek van die ongeluk so traag is, maak als net erger. 

“Dit voel asof my kinders se dood niks beteken nie. Niemand mag die ander party noem tot iemand aangekla word nie, maar dit begin vir my voel asof alles aspris vertraag word. 

“Ons lewe in ’n lewende hel terwyl hy (verdagte) rondkerjakker in Bloemfontein asof niks gebeur het nie.”

Herman van Papendorp en Adri Jonck met die foto van hul dogter, Leané. Foto: Charne van der Merwe

OFM Nuus het met die pa van die bestuurder gesels en volgens hom ondergaan sy seun tans terapie, aangesien die voorval ook vir hom ’n baie traumatiese ervaring was. 

Die pa het gesê dat, na sy wete, die polisie sy seun van strafbare manslag aangekla het, hoewel hy nie verdere besonderhede kon verskaf nie, aangesien hulle nog op terugvoer van die polisie wag.

Die polisie het egter aan OFM Nuus en Smit bevestig dat geen klagte nog teen die bestuurder aanhangig gemaak is nie. Die pa van die bakkiebestuurder het bygevoeg dat hy beplan om Woensdag (9/4) die polisiekantoor te besoek om navraag te doen oor enige nuwe ontwikkelinge in die ondersoek.

“Die bakkie is tans by die paneelkloppers en niemand mag naby die voertuig kom nie. Ek wil uitvind wat met die bakkie aangaan, want ek benodig verslae vir die makelaar.”

LEES OOK: Insameling vir nuwe wiele vir ma wat dogter in ongeluk verloor

Volgens kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, is die ondersoek steeds aan die gang is. “Verklarings is van beide betrokke partye verkry; verdere ondersoek word egter vereis, en niemand is in hierdie stadium aangekla nie.

“Die polisie wag nog vir verslae van ander departemente. Die ondersoekbeampte is van hierdie eksterne partye afhanklik om die uitstaande verslae en dokumente te verskaf.

“Sodra al die nodige inligting ontvang is, sal die saakdossier aan die hof voorgelê word vir ’n beslissing.”

OFM Nuus/Charne van der Merwemvh/cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.