On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan OFM
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

Central SA

‘Koffiefontein, ander klein dorpe kan ook verandering aanvuur’ – Mej. SA-finalis

───   KAREN VAN DER BERG 09:16 Thu, 17 Apr 2025

‘Koffiefontein, ander klein dorpe kan ook verandering aanvuur’ – Mej. SA-finalis  | News Article
’n Vreedsame optog is op Koffiefontein gehou om bewustheid oor geweld teen vroue op te skerp. Foto verskaf

Om bewustheid op te skerp oor geweld teen vroue en hoe dit verband hou met geestessiektes, is van die redes waarom ’n Mej. Suid-Afrika 2025-finalis ’n optog op haar tuisdorp, Koffiefontein, gehou het.

Ayeesha Nthane sê haar klein, plattelandse gemeenskap in die Vrystaat is een van die plekke wat dikwels oor die hoof gesien word. Daarom wil sy plaaslike vroue bemagtig en inlig oor geestesgesondheid en die rol wat geweld teen vroue daarin speel.

“Dit is nie normaal om op enige manier mishandel te word nie. Tog beskou vroue dit dikwels as net ’n deel van hul lewe.”

Mej. SA-finalis Ayeesha Nthane. Foto verskaf

Sy sê die optog is nie net ’n eenmalige gebeurtenis nie. “Ek het ’n hele veldtog om bewustheid oor hierdie probleem op te skerp. Dit is pynlike werklikhede wat ons gemeenskappe diep raak, maar gesprekke oor geestesgesondheid op die platteland kry dikwels nie voorkeur nie.”

Sy sê ’n belangrike deel van haar veldtog is om lig te werp op die dringende behoefte aan geestesgesondheidsonderrig, bewustheid, en ondersteuning in gemeenskappe wat nie voldoende hulpbronne het nie.

“Dit gebeur heeltemal te gereeld dat hierdie gebiede agterweë gelaat word, wat veilige ruimtes betref waar mense hul trauma kan verwerk, hul stem kan laat hoor en regtig kan begin genees.”

Selfs klein dorpe kan ’n kragtige vonk vir verandering wees. Foto verskaf

Sy glo geesteswelstand is ’n noodsaaklike grondslag om die geweldskringloop te verbreek en dat ware verandering begin met opvoeding en oop gesprekke.

Tientalle mense het Woensdag (16/04) aan die optog op Koffiefontein deelgeneem. Sy sê dit was ’n groot sukses. “Dit was ’n vreedsame optog. Alles het volgens plan verloop.”

Sy sê met die optog word ’n standpunt ingeneem teen geslagsgeweld, en ook ’n tree gegee na die opvoeding, bemagtiging en ondersteuning van diegene wat al te lank in stilte gely het. “Dit moet ook dien as ’n simbool van hoop sodat dit kan wys selfs klein dorpe ’n kragtige vonk vir verandering kan wees.

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.