Central SA
Omstrede Vrystaatse burgemeester verwerp bewerings oor geheime eenheid, wapens─── KEKELETSO MOSEBETSI 09:43 Thu, 17 Apr 2025

Die omstrede burgemeester van Matjhabeng verwerp bewerings oor ’n geheime eenheid en die verdwyning van munisipale vuurwapens in dié Goudveldse munisipaliteit ten sterkste.
Thanduxolo Khalipha, wat verlede week weer die tuig opgeneem het, het Woensdag (16/4) in die munisipale hoofkantoor ’n mediakonferensie gehou waar hy sy nuwe burgemeesterskomitee bekendgestel het en planne bespreek het om dienslewering te verbeter.
Een van die nuwe aanstellings is Hlobohang Mokgomo, wat tydens Khalipha se skorsing as waarnemende burgemeester gedien het, en nou lid van die burgemeesterskomitee vir finansies word. Lonwabo Ronald Ngoqo, munisipale bestuurder, was opvallend afwesig; Khalipha het sy bedanking bevestig.
Intussen eis vakbondlede ’n dringende ondersoek. Tiiseto Mahlatsi, Cosatu se Vrystaatse voorsitter, sê die publiek verdien antwoorde oor die beweerde geheime eenheid en vermiste vuurwapens. “Ons is nie ’n militêre instelling nie.
“Geen munisipaliteit behoort so iets te stig nie. Dit moet ondersoek word: Wie het dit begin, waarom, met watter geld en wat het dit gekos?”
Hy wou ook weet of ’n strafsaak geopen is en het die provinsiale regering gevra om op te tree.
Maar Khalipha het die bewerings tydens die mediakonferensie van die hand verwerp. “Wat is ’n geheime eenheid? Ek weet niks daarvan nie; daarom kan ek nie reageer op iets waarvan ek nie kennis dra nie.
“Ek weet ook niks van enige vuurwapens wat vermis is nie. Ek ontvang tans oordragverslae van die direktoraat vir gemeenskapsdienste, en daar is geen sodanige melding in enige verslag van die munisipale bestuurder nie. Sover ons weet, is geen vuurwapen vermis nie – ons kan dit selfs bewys.”
Die munisipale werkersunie Samwu het ook beswaar aangeteken teen Khalipha se heraanstelling. Thabang Tseuoa, provinsiale sekretaris, beskuldig die ANC daarvan dat hy sy eie waardes versaak en beweerde wanadministrasie ignoreer.
“Dit is nie net teenstrydig nie; dit is ’n doelbewuste aanslag op geregtigheid, ’n beloning vir wetteloosheid, en ’n verraad van elke werker en inwoner wat Khalipha se tirannieke bewind moes verduur,” meen Tseuoa.
Hy beklemtoon die unie se beswaar is nie polities nie, maar gegrond op dokumentasie. Khalipha is in 2023 skuldig bevind aan aanranding van sy lyfwag, en sy administrasie word beskuldig van roekelose besteding – insluitend die aankoop van ’n nuttelose tweedehandse voertuigvloot terwyl basiese dienste agteruitgegaan het.
Tseuoa beweer verder Khalipha was betrokke by die stigting van ’n geheime eenheid en word verbind aan die verlore vuurwapens – bewerings wat die ANC steeds nie ondersoek het nie.
Dit is ten spyte van vroeëre beloftes deur die sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, dat Khalipha se toekoms op nasionale vlak hersien sal word.
OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg