Central SA
Man van Orania skiet glo vrou, homself voor hul 12-jarige─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:02 Wed, 09 Apr 2025

Noord-Kaapse polisie ondersoek die dood van ’n vrou, wat glo deur haar man doodgeskiet is voordat hy sy eie lewe geneem het.
Danie van der Westhuizen (47) het sy vervreemde vrou, Marlette (45), na bewering op Maandag 31 Maart omstreeks 18:45 noodlottig geskiet en toe sy pistool op homself gerig, sê lt.kol. Sergio Kock, provinsiale polisiewoordvoerder.
Hopetown se polisie ondersoek die saak en vra dat enigiemand met inligting speursers. Phillip Kleinhans by 082 924 6186 nader. Alle inligting sal vertroulik gehanteer word.
Danie van der Westhuizen. Foto: Facebook
Die oorledenes is op Dinsdag 8 April ter ruste gelê.
Inwoners en instellings van Orania is geruk deur die gebeure wat die lewens van plaaslike inwoners geëis het, sê Burger Lambrechts, woordvoerder van Orania se dorpsraad. Hy betuig hul innige meegevoel met almal “wat deur hierdie hartverskeurende voorval” geraak word.
Hy sê hoewel dit dikwels moeilik is om sulke tragedies te begryp, is dit in hierdie moeilike tyd noodsaaklik om te fokus op die ondersteuning en bystand wat hulle kan bied.
‘Sy toon besondere veerkragtigheid te midde van die tragedie’
“’n Instelling op Orania wat instrumenteel was om doeltreffend en deernisvol te reageer, is Orania Helpmekaar Maatskaplike Dienste. Met hul statutêre verantwoordelikhede het hulle vinnig en doeltreffend opgetree gedurende die kritieke tydperk ná die tragedie.”
Volgens Lambrechts het die egpaar se dogter kort ná die gebeure verjaar. Benewens die amptelike ondersteuning het die gemeenskap ook gemobiliseer om op haar verjaardag blomme, lekkergoed, briefies en meer aan haar te stuur.
“Die maatskaplike werkers in Orania sê sy toon besondere veerkragtigheid te midde van die tragedie en die verlies van albei haar ouers,” sê Lambrechts. “Ons is dankbaar vir die professionele dienste uit die Orania-gemeenskap en die betrokkenheid van die inwoners.”
OFM Nuus mvh/cg