Central SA
Bobbejaan doodgemaak: Alle inligting aan polisie oorhandig─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:25 Wed, 26 Mar 2025

Al die inligting wat nodig is om die skuldiges in die wrede dood van ’n jong bobbejaan by ’n skool te identifiseer, is aan die polisie oorhandig.
Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het sy ondersoek na die dood van Raygun afgehandel en alle tersaaklike inligting aan die polisie voorgelê, sê Jacques Peacock, woordvoerder.
Raygun is op 7 Februarie dood nadat leerlinge aan die Sekondêre Skool Botleng op Delmas hom glo gemartel het. Verskeie video’s en foto’s het die rondte gedoen van die leerlinge wat Raygun met voorwerpe bestook terwyl hy verward om die skoolgebou hardloop. Daar is ook beeldmateriaal van die leerlinge wat hom skop.
“In ’n besonder grafiese video word Raygun se tand uit sy bek geslaan terwyl die kinders skree en op hom spring. Sy liggaam is later verder vermink toe sekere ledemate verwyder is,” het Douglas Wolhuter, bestuurder van die NDBV se wildbeskermingseenheid, vroeër aan OFM Nuus gesê.
NDBV soek geregtigheid vir bobbejaanmannetjie. Illustrasie: NDBV
Ten spyte van hindernisse soos dwarsboming van die gereg, dreigemente aan die betrokke individue en ’n gepeuter met bewyse, was die NDBV vasbeslote in sy missie om geregtigheid vir Raygun te verseker, sê Peacock.
“ ’n Nadoodse ondersoek het belangrike insig verskaf oor die omvang van die bobbejaanmannetjie se beserings. Dit het bevestig dat hy beserings voor sy dood opgedoen het.”
Hy sê die ondersoek is egter verder belemmer deur die plaaslike gemeenskap se huiwering om na vore te kom met inligting of bykomende bewyse. Hierdie gebrek aan samewerking het die NDBV met beperkte opsies gelaat het om verdere leidrade op te volg.”
Die bobbejaanmannetjie, Raygun. Foto: Facebook
Die NDBV het begin Februarie ’n beloning van R20 000 aangebied vir enige inligting oor die leerlinge wat by die marteling betrokke was.
Peacock sê die skool het beweer tien kinders het vroeër die oggend flou geval, wat hulle laat glo het dat die bobbejaan as deel van ’n toordery gestuur is.
Wolhuter sê ná ’n gesprek met die skoolbestuur, het dit duidelik geword dat die voorval diep in bygeloof gewortel is. “Bobbejane word met heksery vereenselwig.”