Central SA
Vrystaatse openbare werke wil vroue in die departement ophef─── ZENANDE MPAME 09:43 Wed, 26 Mar 2025

Om sy verbintenis tot geslagsgelykheid en vrouebemagtiging in die werkplek te bevestig, het die Vrystaatse departement van openbare werke en infrastruktuur vroue in die departement vereer en gevier tydens ’n geleentheid in Bloemfontein se stadsaal.
Wêreldvrouedag word jaarliks op 8 Maart gevier, en vanjaar se tema, “Vir alle vroue en meisies se regte, gelykheid en bemagtiging”, soos deur die Verenigde Nasies verklaar, beklemtoon die dringendheid om sistemiese struikelblokke te verwyder wat vroue se vooruitgang kniehalter.
LUR Dibolelo Mance het besluit om Dinsdag (25/3) alle vroue in haar departement te vereer, onder wie dié met langdiensrekords en dié wat aftree. “Ek het die departement uitgedaag om vroue akademies te ontwikkel, sodat hulle nie as skoonmakers begin en as skoonmakers aftree nie. Hulle moet ontwikkel word en vaardighede aanleer wat belangrik is vir hul loopbaan.”
Sy het gesê talle vroue in die departement het kwalifikasies in verskeie sektore, “maar weens die gebrek aan werksgeleenthede word hulle by openbare werke opgeneem. Ons help hulle om hul graad en vaardighede in te span.
“Aan al die vroue in my departement: Ek wil julle bedank vir jul harde werk, toewyding en ondersteuning aan ons as uitvoerende owerheid. Sonder julle is daar geen departement nie. Julle werk en toewyding maak saak.”
OFM Nuus het met Elsie van der Walt, ’n werknemer in die afdeling vir inligtingsekerheid gepraat. Sy werk al 30 jaar in die departement en sê: “Hierdie viering is ’n wonderlike idee. As jy rondkyk, sien jy hoe gelukkig die mense is.”
Van der Walt was een van die vroue wat ’n toekenning vir lang diens en ’n geskenk van die Mance ontvang het. “Die geleentheid was bedoel om ons vroue te eer, hul leierskap in die departement te vier, en hul harde werk en toewyding oor die jare te erken,” het Mance gesê.
Van der Walt was een van die vroue wat ’n toekenning vir lang diens gekry het. Foto: Verskaf.
“Vandag het ons gekies om vroue in twee spesifieke eenhede te vereer: skoonmaak- en sekuriteitsdienste, aangesien vroue in laer posisies dikwels oor die hoof gesien word. Ek wou hierdie geleentheid gebruik om hulle ook te eer.”
Sy sê hulle het ook besluit om afgetrede vroue te vereer wat met die jare met “uiterste toewyding” in die departement gedien het. Sommige vroue het reeds langer as 40 jaar in die departement gewerk, terwyl ander kan terugkyk op oor die 35 jaar diens.