On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Reg op mediese sorg onder loep op Vrystaatse Menseregtedagvieringe

───   11:20 Sat, 22 Mar 2025

Reg op mediese sorg onder loep op Vrystaatse Menseregtedagvieringe | News Article
Viceroy Mahlatsi in gesprek met Charne van der Merwe, OFM-joernalis. Foto: OFM

Met voortdurende vooruitgang streef die departement van gesondheid in die Vrystaat daarna om ’n doeltreffender, toegankliker en pasiëntgerigte gesondheidstelsel vir al sy inwoners te bou.

Tydens Saterdag (22/3) se Menseregtedagvieringe op Winburg het Viceroy Mahlatsi, Vrystaatse LUR vir gesondheid, aan OFM Nuus die regering se verbintenis beklemtoon om vir alle inwoners toeganklike en doeltreffende mediese sorg te verseker.

Hy het beduidende vordering in gesondheidsdienste oor die provinsie heen, veral in landelike gebiede, uitgelig. “Ons het ’n plan in werking gestel om pasiënte daagliks vanaf afgeleë gebiede na sentrale hospitale te vervoer sodat niemand sonder noodsaaklike mediese sorg gelaat word nie.”

’n Belangrike mylpaal wat hierdie finansiële jaar bereik is, is die bekendstelling van ’n elektroniese pasiëntbestuurstelsel. “Dit sal aansienlik wagtye in gesondheidsfasiliteite verminder omdat pasiëntlêers elektronies bestuur sal word.”



Om gesondheidsdienste verder te moderniseer, het Mahlatsi die bekendstelling van KI-ondersteunde robotchirurgie-stelsels beklemtoon. “Hierdie stelsels sal help om operasies met groter presisie en minder menslike foute uit te voer wat uiteindelik pasiëntuitkomste verbeter.”

Daar word ook gepoog om die gesondheidsorgpersoneel uit te brei. “Deur ons arbeidsmag te vergroot, kan ons verseker dat pasiënte betyds en gehaltesorg ontvang.”

Met betrekking tot gesondheidsdienslewering in landelike gebiede sê Mahlatsi dat uitreikprogramme uitgebrei is om spesialiste na distrikshospitale te bring. “Dit verseker dat mense in afgeleë gebiede dieselfde vlak van gespesialiseerde mediese sorg as stedelike inwoners ontvang.”

‘Primêre gesondheidsorg is ruggraat van ons stelsel’

Nog ’n belangrike inisiatief is die opknapping van klinieke wat die eerste kontakpunt vir baie pasiënte is. “Primêre gesondheidsorg is die ruggraat van ons stelsel en ons prioritiseer die verbetering van hierdie fasiliteite.”

Mahlatsi het die uitdagende werkomstandighede van gesondheidswerkers erken en hul toewyding geprys. “Ek weet die omstandighede is nie altyd ideaal nie, maar ek doen ’n beroep op ons gesondheidswerkers om hul onbaatsugtige diens voort te sit. As ’n departement doen ons alles moontlik om hul werkomgewing te verbeter.”

Om lewens te red en mediese sorg te bied, bly ’n fundamentele mensereg en ’n kernprioriteit vir gesondheidswerkers. “Ons verantwoordelikheid is om lewens te red ongeag die uitdagings wat ons beleef. Hierdie verbintenis is deel van die eed en beloftes van ons mediese professionele persone.”

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.