On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse polisie herroep opdrag oor slegs Engels

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 21:40 Thu, 20 Mar 2025

Noord-Kaapse polisie herroep opdrag oor slegs Engels | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Die opdrag wat deur die Noord-Kaapse polisiekommissaris gegee is dat alle verklarings van misdaadslagoffers slegs in Engels afgeneem word, is herroep.

Die DA verwelkom die besluit om hierdie opdrag te herroep nadat lt.kol. Koliswa Otola erken het dit druis lynreg in teen ’n hooggeregshofbevel van 2017, sê Lisa Schickerling, DA-adjunkwoordvoerder oor polisie. “Sy het bevestig die besluit is onmiddellik herroep nadat dit onder haar aandag gebring is.”

Schickerling sê die DA waardeer die dringende aandag wat Otola aan die saak geskenk het nadat sy dit Dinsdag (18/3) met haar opgeneem het. “Sulke foute het die potensiaal om die regte van slagoffers ernstig te skend.”

Sy sê veral tydens Menseregtemaand is dit ’n oorwinning dat die Noord-Kaapse polisie ’n funksionele vlak van veeltaligheid sal handhaaf. “Dit sal meebring dat misdaadslagoffers se regte beskerm word, dat slagoffers met waardigheid behandel word en dat daar ’n redelike kans op suksesvolle vervolging in alle strafsake sal wees,” sê Schickerling.

Lt.genl. Koliswa Otola. Foto: Facebook

Intussen het Kaapse Forum ook sy tevredenheid uitgespreek en sê dit is verblydend dat goeie oordeel geseëvier het en die besluit herroep is.

“Hierdie reël sou ’n wesenlike (nadelige uitwerking) gehad het op gemeenskapsvlak; daarom verwelkom Kaapse Forum die besluit om dit terug te trek,” sê Bernard Pieters, hoof van gemeenskapsaktivering. “Dit wys weereens die mag van gemeenskappe wat saam mobiliseer om druk toe te pas.”

Pieters beklemtoon dat die oorspronklike opdrag heeltemal in stryd is met artikel 6(3)(1) van die Grondwet, wat opdrag gee dat provinsiale regerings minstens twee amptelike tale gebruik. Kaapse Forum het ’n dokument waarin die provinsiale kommissaris die herroeping van die opdrag bevestig.

Lisa Schickerling. Foto: DA

Hy sê egter die Forum hou vol dat toegang tot die polisiediens verbreed moet word en dat ander taal gemeenskappe dit as platform moet gebruik om ander minderheidstale te bevorder. “Engels is waarskynlik nie die polisielede aan diens se eerste taal nie, wat ook die moontlikheid vir die foutiewe afneem van verklarings verhoog.

“Foute wat tydens die vertaling van verklarings inglip kan daartoe lei dat verklarings uitgegooi word of dat belangrike inligting oorgesien word. Gemeenskappe moet waar moontlik toegelaat word om in hul eie moedertaal verklarings af te lê om te verseker dat inligting akkuraat oorgedra word en (sake) dus meer suksesvol opgevolg kan word.”

OFM Nuus mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.