Central SA
Vrystaat wil R5,2 miljard aan infrastruktuur bestee─── ZENANDE MPAME 15:49 Tue, 18 Mar 2025

Die Vrystaatse regering wil met sy 2025/2026-begroting ’n fyn balans vind tussen beleggings wat ekonomiese groei bevorder, en die beskerming van noodsaaklike dienste.
Ketso Makume, LUR vir finansies, het die provinsiale begroting Dinsdag (18/3) namens die sewende administrasie in die Vierde Raadsaal in Bloemfontein voorgelê.
Die administrasie het drie sleutelprioriteite geïdentifiseer: inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping, armoedeverligting en die bestryding van stygende lewenskoste, en die bou van ’n bekwame, etiese en ontwikkelingsgerigte staat.
In die 2025/26-boekjaar beplan die provinsie om net meer as R5,2 miljard aan infrastruktuur te bestee. “Infrastruktuurbelegging speel ’n kernrol in ekonomiese groei, werkskepping en armoedeverligting,” het Makume gesê.
“Die tydige lewering van infrastruktuur binne die toegewese begroting is noodsaaklik vir die groei van ons provinsiale ekonomie en werkskepping.”
Amper 42% van die toewysing sal bestee word aan projekte van die departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer. Die departement het R2,4 miljard uit die voorwaardelike toekennings ontvang vir die instandhouding van provinsiale paaie en subsidiebetalings vir openbare busvervoer.
Hierdie bedrag sluit sowat R201 miljoen in wat geoormerk is vir die Welisizwe- landelike brugprogram.
Tydens die provinsiale rede het premier MaQueen Letsoha-Mathae gesê dat R250 miljoen vir nuwe padprojekte opsygesit is wat in die eerste kwartaal van die 2025/26-boekjaar sal begin. “Die departement ontvang … R3,7 miljard in 2025/2026, R3,2 miljard in 2026/2027 en R3,3 miljard in 2027/2028.”
“Altesaam word beraam dat die departement R10,3 miljard oor die mediumtermyn-bestedingsraamwerk sal bestee.”
Die begroting maak voorsiening vir die openbarevervoer-subsidietoekenning, instandhouding van provinsiale paaie, werkskepping deur die uitgebreide openbarewerkeprogram, die Welisizwe- landelike brugprogram en die verligting van begrotingsdruk weens loonooreenkomste.
“Solank die ANC die regerende party van die Vrystaat bly, sal daar nie groei in die provinsie wees nie en sal die begrotingsdruk in die provinsie aanhou toeneem,” sê Armand Cloete, VF Plus-wetgewerlid, in die reaksie op die begrotingsrede.
Armand Cloete, VF Plus-wetgewerlid. Foto: Facebook
“Weens die nasionale fiskale druk en swak ekonomiese groei bly die Vrystaat se beursie onder druk met ’n totale begroting van R45 miljard vir die nuwe boekjaar. Die departemente van gesondheid (R14,1 miljard) en onderwys (R18,8 miljard) alleen verteenwoordig meer as 73% van die totale begroting.”
Cloete sê die department van onderwys se oortrokke fasiliteit wissel die afgelope vyf jaar tussen R900 miljoen en R1 miljard. “Die tesourie het ook aangedui dat die departement in die komende boekjaar weer ’n salarisbegrotingstekort van R500 miljoen sal ervaar.”
Oudergewoonte is te min vir infrastruktuurinstandhouding soos paaie begroot, meen Cloete. Infrastruktuurbesteding verteenwoordig slegs 11% van die begroting. “Padinstandhouding is … van kardinale belang aangesien landbou, wat die grootste ekonomiese aktiwiteit in die provinsie is, afhanklik is van ’n betroubare padnetwerk.
“Intussen word tenders aan kontrakteurs in Vrystaatse toegeken op grond van die ANC se beleid van swart ekonomiese bemagting, wat die Wêreldbank ook ag as ’n groot risiko vir ekonomiese groei.”
Hy sê veral in die Vrystaat vind net ’n handjie vol ANC-hooggeplaastes baat by die party se “rasgebaseerde beleidstukke”. Die provinsie “verdien nuwe beleidstukke waarby die mense van die provinsie sal baat en nie ANC-tenderpreneurs wat nie die werk kan doen nie en hulself net verryk in die proses.”
• Ander partye in die wetgewer soos die DA, EFF en MK-party moet nog op die begrotingsrede reageer.