Central SA
Legkaart amper voltooi ná bewyse van bobbejaan se wrede dood─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:38 Mon, 17 Mar 2025

Al wat kort om die legkaart van bewyse van die mense wat verantwoordelik is vir die dood van ’n jong bobbejaan in Mpumalanga te voltooi, is die beeldmateriaal.
Die bobbejaanmannetjie Raygun is op 7 Februarie dood nadat leerlinge aan die Sekondêre Skool Botleng op Delmas hom gemartel het. Verskeie video’s en foto’s het die rondte gedoen van die leerlinge wat Raygun met voorwerpe bestook terwyl hy verward om die skoolgebou hardloop. Daar is ook beeldmateriaal van die leerlinge wat hom skop.
“In ’n besonder grafiese video word Raygun se tand uit sy mond geslaan terwyl die kinders op hom spring en skree. Sy liggaam is later verder vermink toe sekere ledemate verwyder is,” het Douglas Wolhuter, bestuurder van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se wildbeskermingseenheid, vroeër aan OFM Nuus gesê.
“Al waarvoor ons nou wag is die videogreep van wat gebeur het nadat die persoon Raygun op die dak gejaag het en die video’s van hom wat geskop en geslaan word, om geregtigheid vir die bobbejaanmannetjie te verseker,” sê Jacques Peacock, woordvoerder van die Nasionale Raad van Dierewelsynsverenigings (NRDBV).
NRDBV soek geregtigheid vir bobbejaanmannetjie. Illustrasie: NRDBV
“Dit is noodsaaklik om die verloop van gebeure vas te stel en veral om die persoon of persone wat verantwoordelik is vir Raygun se dood in hegtenis te neem.”
Volgens Peacock bel mense hulle en eis dat almal aangekla word, “maar dit is onrealisties in die strafreg aangesien ons klagte teen individue moet indien, met onweerlegbare bewyse wat die klagte staaf”.
“Die NRDBV het voorheen met die skoolbestuur vergader, maar hulle weier om die name te gee van die drie leerlinge wat gesien kan word in die beeldmateriaal wat Raygun op die skooldak jaag.”
‘As deel van ’n toordery gestuur’
Die skool beweer dat tien kinders vroeër die oggend flou geword het, wat hulle laat glo het dat die bobbejaan as deel van ’n toordery gestuur is.
Wolhuter sê ná ’n gesprek met die skoolbestuur, het dit duidelik geword dat die voorval diep in bygeloof gewortel is. “Bobbejane word met heksery vereenselwig.”
Skermgreep van Raygun wat deur ’n leerder aangeval word. Foto: Facebook
Phil Vermeulen, wat die ondersoek lei, het op 21 Februarie gesê ’n magdom mense het hulle genader om die NRDBV in sy ondersoek te help.
Die private ondersoeker Mike Bolhuis en sy ondersoekfirma, Specialised Security Services, is ook onlangs deur die publiek genader om te verseker dat geregtigheid vir Raygun geskied.
Die NRDBV het aan die begin van Februarie ’n beloning van R20 000 aangebied vir enige inligting oor die leerlinge wat by die marteling betrokke was.
Petisie deur meer as 15 500 mense onderteken
’n Versoekskrif waarin aanspreeklikheid geëis word, is ’n dan ná die bobbejaan se dood deur dr. Tristán Kapp op change.org begin. Die petisie is sedertdien deur meer as 15 500 mense onderteken.
Daarin word administratiewe aanspreeklikheid gevra en geëis dat die skool se bestuur ’n interne ondersoek gelas om te bepaal hoe so iets toegelaat is om onder hul toesig te gebeur.
Die NRDBV het aan die begin van Februarie ’n beloning van R20 000 aangebied. Foto: NRDBV
Die tweede eis is dat die skool ’n streng beleid teen dieremishandeling opstel en afdwing om te verseker dat alle leerders en personeel bewus is van die etiese en wetlike implikasies van sulke optrede.
Voorts word gevra dat die skool met plaaslike dierewelsynsorganisasies saamwerk aan opvoedkundige programme wat leerders die belangrikheid van wildbewaring en die menslike behandeling van diere leer.
Laastens word in die versoekskrif gevra dat gereelde oudits van die skool se beleidstellings en praktyke rakende leerlinggedrag en etiek uitgevoer word, met deursigtige verslagdoening aan die skoolgemeenskap en die betrokke owerhede.
OFM Nuus cg