Central SA
Klein Tennique terug skool toe ná botsing buite Bloemfontein─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:06 Mon, 17 Mar 2025

Die enigste oorlewende kind van ’n botsing buite Bloemfontein is ná byna twee maande terug by die skool.
Tennique Joubert (6) het die eerste week van Maart stelselmatig teruggekeer skool toe toe sy twee uur per dag klasse bygewoon het, sê haar oupa Cornelius Berry.
“Sy het baie vinnig moeg geword, waarna die skoolhoof my dan gebel en gesê het ons moet haar kom haal. Maar Dinsdag (11/3) het sy haar eerste volle skooldag gehad.”
Cornelius Berry, Madelein Berry en Tennique Joubert. Foto verskaf
Volgens Berry was dit maar baie moeilik en emosioneel: Sy het baie gehuil, en soms moes die onderwyser haar besig hou sodat ek kon wegglip.”
Tennique is onder die sorg van haar oupa en ouma Madelein.
LEES OOK: Klein Tennique drie weke ná dodelike botsing ontslaan
Volgens Berry vat Tennique nou elke dag haar pop saam skool toe, ’n vertroostende item wat ’n groot verskil in haar aanpassing gemaak het.
Tennique was op 24 Januarie in ’n ongeluk betrokke waarin twee broers, Ryan (6) en Ayden Smit (8), en hul niggie Leané van Papendorp (6) hul lewe verloor het.
Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan, verloor. Foto: Facebook/Martin Smit
’n Hilux-bakkie het op die kruising naby Aljo’s Superspar op die N8 buite Bloemfontein in ’n rooi Chevrolet Spark vasgery waarin die kinders op pad skool toe was.
Ten spyte van haar vordering kry Tennique steeds elke week berading en arbeidsterapie, vertel haar oupa. Sy kry nog nagmerries weens die ongeluk. “Sy word wakker, huil, praat in haar slaap en is baie onrustig. Maar oor die algemeen vaar sy baie beter."
Herman van Papendorp en Adri Jonck met die foto van hul dogter, Leané. Foto: Charne van der Merwe
Oor die letsels aan haar gesig het Berry voorheen die moontlikheid van plastiese chirurgie genoem. Hy sê hulle gebruik egter vir eers ’n spesiale room wat reeds tot ’n verbetering gelei het. “Ons monitor haar vordering en sal oor ’n paar maande oor verdere stappe besluit.”
Berry sê hy en Madelein besef daar lê nog vele uitdagings vir Tennique voor, maar “die Here het haar gespaar, en daarvoor is ons ewig dankbaar. Ek het baie geduld met my kleinkind, en ek is gereed om die uitdaging saam met haar aan te pak.”
Tennique was ná die ongeluk byna twee weke in ’n koma in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein. Haar milt moes verwyder word weens die erge impak. Sy is ná 19 dae ontslaan.