On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Olebogeng
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

VSA-skorsing van Suid-Afrikaanse ambassadeur ‘betreurenswaardig’

───   10:23 Sat, 15 Mar 2025

VSA-skorsing van Suid-Afrikaanse ambassadeur ‘betreurenswaardig’ | News Article
Ebrahim Rasool, die Suid-Afrikaanse ambassadeur, word uit die VSA gegooi. Foto: X

Die VSA se besluit om Suid-Afrika se ambassadeur te skors is “betreurenswaardig”, het die kantoor van die president Saterdag (15/3) gesê.

Die Trump-administrasie het die Suid-Afrikaanse ambassadeur Ebrahim Rasool uit die land gegooi en hom tot persona non grata verklaar nadat hy ’n lesing gehou het waarin hy beweer het dat Amerikaanse president Donald Trump ’n wit heerssugtige is. 

“Die Suid-Afriaanse presidensie het kennis geneem van die betreurenswaardige skorsing van ambassadeur Ebrahim Rasool, Suid-Afrika se ambassadeur in die Verenigde State van Amerika. Die presidensie doen ’n beroep op alle relevante en geaffekteerde belanghebbendes om die gevestigde diplomatieke dekorum in hul betrokkenheid by die saak te handhaaf.

“Suid-Afrika bly daartoe verbind om ’n wedersyds voordelige verhouding met die Verenigde State van Amerika te bou,” sluit die verklaring af.

Rasool het Trump en sy bondgenote, waaronder die Suid-Afrikaans-gebore miljardêr Elon Musk, onder meer daarvan beskuldig het dat hulle wit oppergesag bevorder.

Marco Rubio, minister van buitelandse sake, het Vrydag gesê Rasool is nie meer welkom in die Verenigde State nie omdat hy ’n politikus is wat met ongewensde rasuitlatings punte wil aanteken. 

Rasool het ook kommentaar gelewer oor die Amerikaanse buitelandse beleid en Trump se Make America Great Again-beweging gekritiseer. Rasool was deel van ’n paneelbespreking oor buitelandse beleid wat deur die Mapungubwe Instituut vir Strategiese Besinning, genaamd Mistra, aangebied is.

Die skorsing van Rasool, ’n voormalige anti-apartheidskampvegter, het bygedra tot toenemende spanning tussen Washington en Pretoria. 

Trump het in Februarie Amerikaanse hulp aan Suid-Afrika bevries met verwysing na ’n wet in die land wat volgens hom toelaat dat daar op grond van wit boere beslag gelê kan word. Trump het verlede week die spanning verder verhoog en gesê Suid-Afrika se boere is welkom om hulle in die Verenigde State te vestig nadat hy sy beskuldigings herhaal het dat die regering grond van wit mense "konfiskeer".

Rasool is ’n Suid-Afrikaanse politikus en diplomaat wat van 2010 tot 2015 en weer in 2025 as die Suid-Afrikaanse ambassadeur in die VSA gedien het. Hy was ’n lid van die Nasionale Vergadering van 2009 tot 2010, en het as die 5de premier van die Wes-Kaap van 2004 tot 2008 gedien. Hy is ’n ANC-lid en het verskeie leiersposisies in die party beklee.

Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, het op X gesê die ANC se leiers en hul ontplooide kaders, soos Ebrahim Rasool, moet direk aanspreeklik gehou word vir die jongste diplomatieke krisis wat hulle tussen Suid-Afrika en die VSA veroorsaak het.

“Nadat spanning tussen die VSA en Suid-Afrika reeds toegeneem het, het die ANC die dwase besluit geneem om Iran se ‘ambassadeur’ daar te huisves. Rasool het president Donald Trump Vrydag (14/3) roekeloos beskuldig dat hy ’n wit heerssugtige beweging wil lei.

“Die ANC-leierskap dobbel met die toekoms van Suid-Afrika en sy mense deur die party se belange en verkeerde beleid bo die land se welstand te prioritiseer.

“Dit is in ons almal se belang om pogings te versnel om ’n duidelike rigtingverandering vir Suid-Afrika teweeg te bring. As ons dit nie doen nie, sal ANC-leiers voortgaan om ons op ’n pad van vernietiging te lei.”

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.