Central SA
Twee Noord-Kapenaars sterf weens laat ambulanse; verbeterings belowe─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Sat, 15 Mar 2025

Die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement gee toe ambulansdienste, personeel en reaksietye moet verbeter word ná die dood van ’n man en ’n baba wat lank op ambulanse moes wag.
Die departement is by die Menseregtekommissie (MRK) aangegee ná twee afsonderlike voorvalle waar ’n pasgeborene en ’n diabeet albei dood is nadat hulle langer as ’n dag op ambulanse gewag het, sê dr. Isak Fritz, die DA-wetgewerlid.
Meer as die helfte van die mediese nooddienste in die Noord-Kaap is glo buite werking, sê Fritz.
’n Jong ma van Rooiwal in die Richtersveld kon twee weke gelede glo nie toegang tot ’n ambulans bekom nie. Die vrou het omstreeks 14:30 op Sondag 1 Maart begin kraam. Die baba is omstreeks 22:00 gebore, maar was reeds dood.
Dr. Isak Fritz. Foto: DA
Die ambulans het eers ná 04:00 die volgende oggend opgedaag, meer as twee uur nadat forensiese dienste opgedaag het om die baba se liggaam weg te neem.
“Dit is nie ’n geïsoleerde voorval nie. Net ’n week gelede is ’n diabetiese pasiënt dood terwyl hy van Kuruman na die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley vervoer is. Die man het twee dae op ’n ambulans gewag.”
In ’n ander geval het ’n pasiënt van Ritchie glo op ’n Vrydag langer as agt uur gewag op ’n ambulans om hom na die hospitaal te vervoer nadat hy ineengestort het.
Toestand betreur
Fritz betreur die toestand van mediese nooddienste en sê dis al sedert 2019 in “hoësorg”, ondanks herhaalde beloftes om die vloot noodvoertuie te verbeter.
“Nuwe inligting toon dat slegs 46% van die vlootkapasiteit operasioneel is,” sê Fritz.
Die DA het meermale sy kommer uitgespreek oor die provinsie se ambulansverkrygingstrategie, wat volgens hulle ingestel is op voertuigvervanging pleks daarvan om die vloot te versterk. “Ons het herhaaldelik gevra vir ’n vinniger omkeertyd vir noodvoertuigherstelwerk.”
Fritz sê eerder as die probleme op te los, het die gesondheidsdepartement sy teikens vir operasionele ambulanse verminder van 184 na 130. “Net so is sy teiken vir EMS-personeel van 1 800 tot 720 gesny, met huidige personeel op slegs 653, vergeleke met ongeveer 700 in 2019. “Dit is nie goed genoeg nie.”
Baie ambulanse werk steeds met net ’n enkele personeellid, en in die Hantam werk ambulanse slegs twaalf uur per dag. Daarbenewens word pasiëntevervoer gereeld gedwing om reise te kanselleer, wat daartoe lei dat plattelandse pasiënte nie die mediese sorg kry wat hulle nodig het nie.
Lulu Mxekezo, Noord-Kaapse gesondheidswoordvoerder, erken ambulansdienste is lewensbelangrik en wil die publiek verseker “dat ons beslissende stappe doen om reaksietye en dienslewering dwarsdeur die provinsie te verbeter”.
“Ons het ’n vennootskap met private ambulansdienste aangegaan om voortgesette dekking vir hoëprioriteit-noodgevalle te verseker terwyl ons ons verbeteringsplan implementeer.” Verbeterings sluit in:
- Altesaam 22 nuwe ambulanse sal by die vloot gevoeg word (ondergaan tans lisensiëring).
- Honderd bykomende noodsorgpersoneel sal in die nuwe boekjaar gewerf word.
- Lugambulansdienste word uitgebrei om paddienste vir lewensgevaarlike gevalle aan te vul.
“Ons het ’n spesifieke begroting vir hierdie verbeterings toegeken en bly verbind tot ons kernmissie: om te verseker dat elke Noord-Kapenaar toegang het tot vinnige, betroubare mediese nooddienste wanneer nodig,” sê Mxekezo.
“Ons bedank (inwoners) vir (hul) geduld en begrip terwyl ons werk om hierdie noodsaaklike staatsdiens te verbeter.”
OFM Nuus cg