On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse skole kry R100 miljoen om onderwys te verbeter

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:35 Fri, 07 Mar 2025

Noord-Kaapse skole kry R100 miljoen om onderwys te verbeter | News Article
Hierdie ingryping beklemtoon die regering se verbintenis om onderwys te prioritiseer. Foto: iStock

Die Noord-Kaapse departement van onderwys, in vennootskap met die kantoor van die premier en die nasionale tesourie, het suksesvol ’n noodtoewysing van R100 miljoen verkry.

Hierdie ingryping beklemtoon die regering se verbintenis om onderwys te prioritiseer en ’n optimale, bevorderlike leeromgewing vir alle leerders te skep, sê Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van onderwys. 

“Hierdie geld is toegeken vir noodsaaklike behoeftes, insluitend leer- en onderrigondersteuningsmateriaal, munisipale dienste, spesiale skole, koshuissubsidies, sentrums vir vroeëkinderontwikkeling (VKO) en leerdervervoer.”

Onlangse kommer is geopper oor agterstallige skoolbetalings wat tot optrede van onderwysersvakbonde gelei het. In reaksie op die toenemende krisis is versoeke vir nasionale ingryping in die Noord-Kaapse onderwysstelsel gerig.

Geld is toegeken vir noodsaaklike behoeftes. Foto: School worksheets

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het gepleit om die Noord-Kaapse departement van onderwys onder administrasie te plaas. Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, sê die situasie het ’n kritieke punt bereik  met sommige skole wat gedwing word om hul koshuise te sluit. Gevolglik was leerders, insluitend matrieks, by die huis sonder opvoedkundige ondersteuning.

Die Noord-Kaap het ook verlede jaar die swakste matriekuitslae van alle provinsies behaal. “Dit is 'n direkte gevolg van wanbestuur. Die administratiewe onbevoegdheid van die departement het ’n ernstige impak op die toekoms van ons leerders,” sê Deacon.

Priscilla Isaacs, DA se provinsiale woordvoerder vir onderwys, het beklemtoon dat die departement se finansiële nalatigheid en gebrek aan finansiering skole sedert September 2024 sonder basiese hulpbronne soos kos, skryfbehoeftes en instandhoudingsdienste laat sukkel het.

Van der Merwe het bevestig dat die geld binne die volgende twee weke uitbetaal sal word met deeglike oorweging wat aan die toekenning daarvan gegee is.

Die Noord-Kaap het verlede jaar die swakste matriekuitslae van alle provinsies behaal. Foto: iStock

“Die geld sal vir verskeie doeleindes aangewend word. Dit sluit in maar is nie beperk tot die verskaffing van leer- en ondersteuningsmateriaal soos handboeke en skryfbehoeftes, noodsaaklike dienste en instandhouding, subsidies vir koshuise, vervoer, en die aanstelling en vergoeding van tydelike onderwysers nie.”

Hy sê die departement het reeds met die nodige administratiewe en prosedurele stappe begin om die vinnige en doeltreffende toewysing en aanwending van die geld te verseker.

‘Ingryping weerspieël provinsiale regering se toewyding’

“Omsendbriewe is aan alle skole gestuur met duidelike voorskrifte oor hoe die geld gebruik moet word wat verseker dat maksimum impak, fiskale aanspreeklikheid en institusionele nakoming verseker word.”

Die departement beklemtoon hierdie finansiële ingryping weerspieël die provinsiale regering se toewyding om die finansiële beperkings wat die onderwyssektor raak die hoof te bied. “Ons bly onwrikbaar in ons verbintenis tot die handhawing van bedryfsdoeltreffendheid en uitnemendheid in ons skole," sê Van der Merwe

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.