Central SA
Vrystaatse plaasseun Saterdag gegroet─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:42 Fri, 11 Apr 2025

’n Vrystaatse plaasseun, wat ’n week gelede in ’n ongeluk dood is, word Saterdag begrawe.
Klaas van Reeuwyk (19), wat as voorman op die plaas Drie Koppies in die Petrusburg-omgewing gewerk het, is Donderdag 3 April dood toe hy glo deur ’n motor getref is, sê sers. Mahlomola Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Luidens berigte het hy en nog iemand beeste aangejaag wat die N8 tussen Bloemfontein en Petrusburg oorgesteek het. Klaas het vermoedelik gegly en in die pad van ’n aankomende voertuig beland.”
Van Reeuwyk (middel) was verlede jaar een van die hoofleiers van die Hoërskool Salomon Senekal op Viljoenskroon. Die ander leiers is (van links): Kobus Jordaan, Christiaan Coetzee, Stephan Venter en Kyle van Heerden. Foto: Facebook/Hoërskool Salomon Senekal
Van Reeuwyk is oorlede ’n week nadat hy sy 19de verjaardag gevier het.
Kareli sê die polisie het omstreeks 15:20 by die toneel aangekom. “Die bestuurder was steeds op die toneel. Klaas het toe reeds aan sy beserings beswyk.”
’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
Klaas en sy pa Nelis. Foto verskaf
Van Reeuwyk, oorspronklik van Viljoenskroon, het verlede jaar gematrikuleer aan die Hoërskool Salomon Senekal op Viljoenskroon. Hy was lid van die leerlingraad, het erekleure vir rugby gekry en het ’n bronsmedalje in die hamergooi op die Vrystaatse interhoër-atletiekbyeenkoms in 2024 verwerf.
Die skool het Van Reeuwyk beskryf as iemand wat onthou sal word vir sy “unieke gees en sy stil maar betekenisvolle teenwoordigheid”.
Van Reeuwyk (links) en Kobus Jordaan is in 2022 gekies vir die o.16-Griffons-Plattelandspan. Foto: Facebook/Hoërskool Salomon Senekal
Hy het sedert Desember verlede jaar op die plaas in die Petrusburg-distrik gewerk terwyl hy deeltyds vir ’n diploma in plantproduksie deur die Peritum Agri-instituut in Bloemfontein gestudeer het.
Van Reeuwyk was die enigste seun van Nelis, ’n motorwerktuigkundige, en Marlize. Hy word oorleef deur sy ouers en twee jonger susters.
Hy word Saterdag (12/4) om 11:00 uit die APK op Viljoenskroon begrawe.
OFM Nuus cg