On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Inisiatief begin om alle kleuterskole in Vrystaat te registreer

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:12 Fri, 11 Apr 2025

Inisiatief begin om alle kleuterskole in Vrystaat te registreer | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

’n Inisiatief is van stapel gestuur om programme vir vroeë kinderontwikkeling regoor die Vrystaat te registreer om toegang tot gehalte- vroeë leer en sorg vir jong kinders te verbeter, wat ’n sterk grondslag lê vir hul toekomstige ontwikkeling.

Die Vrystaatse departement van onderwys is trots om die bekendstelling van die Bana Pele ECD-massaregistrasieveldtog aan te kondig, ’n veldtog wat daarop gemik is om programme vir vroeë kinderontwikkeling (VKO) dwarsoor die provinsie te registreer, sê Howard Ndaba, kommunikasiebestuurder.

“Ons teiken is om soveel moontlik VKO’s teen einde 2025 te registreer.” Hy sê hierdie strewe poog om te verseker dat elke kind in die Vrystaat kwaliteit- vroeë leer, ontwikkelingsgeleenthede en ’n veilige en koesterende omgewing ontvang.

Foto ter illustrasie: iStock

Volgens Howard is die helfte van alle VKO-programme ongeregistreer – wat duisende kinders beïnvloed. “Hierdie situasie raak die lae-inkomstegebiede die meeste, waar kwesbare kinders ’n groter risiko loop om behoorlike toesig en broodnodige befondsing mis te loop.”

Howard sê die doelwitte van die veldtog is om staatstoesig moontlik te maak oor tuisskoolgroepe en onderrigsentrums waar kinders versorg word, om VKO-programme te ondersteun om aan wetlike vereistes te voldoen, om te verseker dat meer VKO’s kan aansoek doen om subsidies vir kinders uit lae-inkomste huishoudings en om registrasie- en administrasieprosesse te stroomlyn.

Hy beklemtoon dat die vroeë ontwikkeling van kinders tussen geboorte en vyfjarige ouderdom van kritieke belang is vir ’n kind se kognitiewe en fisiese ontwikkeling.

Foto ter illustrasie: iStock

“Vroeë leer en stimulasie sluit in die aanleer van taal, fyn motoriese vaardighede wat nodig is om te leer lees en skryf, basiese gesyferdheidsbegrippe en -vaardighede, probleemoplossingsvaardighede en ’n liefde vir leer, wat kinders deur die opvoedkundige loopbaan en hul lewens ten goede sal hou.”

Howard sê hy wil ouers daaraan herinner dat dit baie belangrik vir ’n kind is om ’n geregistreerde skool by te woon. 

“Wanneer ’n VKO-sentrum geregistreer is, beteken dit dat hulle die regering se reëls en standaarde volg. As ouer kan jy dus vol vertroue voel om te weet dat jou kind in ’n veilige ruimte is, behoorlik versorg word en ’n stewige grondslag kry met ’n kwaliteit- vroeë leerprogram.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.