On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse polisie vra hulp om oorledene uit te ken

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 07:00 Sat, 12 Apr 2025

Vrystaatse polisie vra hulp om oorledene uit te ken | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Die polisie in Welkom vra dringend hulp om die liggaam van ’n onbekende oorledene te identifiseer.

Die ontbinde liggaam is op 2 April omstreeks 18:49 ontdek waar dit aan ’n boom gehang het naby Lakeviewpan, sê sers. Palesa Thabana, polisiewoordvoerder.

“Die oorledene het ’n swart T-hemp, swart kortbroek en bruin skoene aangehad. Hy het ’n tatoeëermerk van ’n babahand wat ’n volwasse hand vashou aan sy linkerbinnevoorarm.”

‘Die woord chill is op die man se linkerboarm getatoeëer’

Volgens Thabana staan die woord “chill” op die man se linkerboarm getatoeëer en hy het ook ’n groot tatoeëermerk aan sy linkerbeen. “Die oorledene lyk goed versorg en is tussen 20 en 30 jaar oud.”

Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen vir ondersoek.

Enigiemand wat kan help met inligting oor die oorledene moet ao. Riaan de Lange by 082 821 9227 nader. Die MySAPS-app kan gebruik word om inligting te deel of bel Stop Misdaad by 08600 10111.

Ontbinde liggaam in Jan Kempdorp

In ’n aparte voorval soek Jan Kempdorp-polisie ook dringend hulp om nog ’n onbekende oorledene te identifiseer.

Die ontbinde liggaam is op 20 Maart in ’n veld naby die weermag se ammunisiedepot in Jan Kempdorp deur ’n verbyganger gevind, het lt. kol. Sergio Kock, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.

“Die liggaam was in ’n gevorderde toestand van ontbinding, en ons kon nie die individu identifiseer ten spyte van ons volgehoue pogings nie,” het Kock gesê. Hy het bygevoeg dat geen vermiste persoon, wat met die beskrywing ooreenstem, tot op hede aangemeld is nie.

Help met identifikasie

Die oorledene is na raming 45 jaar oud en ongeveer 1,6 m lank. Hy het ’n rooi T-hemp en blou kortbroek aangehad.

“Ons hoop dat lede van die gemeenskap wat inligting oor vermiste persone het of wat hierdie beskrywing herken, na vore sal kom om te help met die identifikasie,” het Kock gesê.

Enigiemand wat kan help met inligting oor die oorledene moet speursers. Raneo Molelekeng by 060 976 9067 nader. Die MySAPS-app kan gebruik word om inligting te deel of bel Stop Misdaad by 08600 10111.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.