On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Rekordgetal spanne vanjaar in Kimberley sporttoernooi vir skole

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:14 Fri, 11 Apr 2025

Rekordgetal spanne vanjaar in Kimberley sporttoernooi vir skole | News Article
Aksie by die toernooi in 2024. Foto: Absa Wildeklawer Sport Facebook.

’n Rekordgetal van amper 130 skole uit alle uithoeke van die land sak vanjaar op die Noord-Kaap toe vir die grootste skolesportbyeenkoms in Afrika.

Altesaam 126 skole stuur 232 spanne – waarvan 44 uit die Noord-Kaap – na die Absa-Wildeklawer-sporttoernooi (AWSST) in Kimberley. Danksy 5 357 spelers en beamptes, beloof die geleentheid ’n mengsel van topvlakkompetisie en skoolgees, sê Cassie Carstens, AWSST-bestuurder.

Oor die afgelope 14 jaar het dit gegroei tot die grootste en mees gesogte skolesportbyeenkomste waarvan die beste rugby, netbal, hokkie en sokker op skolevlak gespeel word.

Volgens Carstens is die toernooi nie net ontwerp om mededingende uitnemendheid ten toon te stel nie, maar ook om toegang en geleenthede in skolesport te verbreed deur sterk vennootskappe en samewerking oor streke heen te bevorder.


Die amptelike openingseremonie vind op 30 April om 17:30 by die Hoërskool Diamantveld plaas, gevolg deur ’n hoofrugbywedstryd om 19:00 tussen Paul Roos Gimnasium en die Afrikaans Hoër Seunskool, twee reuse op die skolerugbytoneel.

Carstens beklemtoon AWSST se visie is om elite- sowel as plaaslike skole ’n gelyke geleentheid te gee om aan ’n toernooi op hierdie skaal deel te neem. “Die doel is om eenheid te bevorder, vriendskappe te bou en sportmangees onder die jeug aan te moedig, terwyl hulle hulle inspireer om op die hoogste vlak aan sport deel te neem.”

32 000 toeskouers in 2024

Die aksie begin met laerskoolrugby en -netbal op 24 April by die Laerskool Newton. Van 28 tot 30 April sal uitnodigingspanne in rugby, netbal en sokker op plekke dwarsoor die Diamantstad meeding. Die o.19-sokker en -hokkie vind van 1 tot 3 Mei by die Sol Plaatje-Universiteit plaas. 

Junior rugby vir o.14, o.15 en o.16 is geskeduleer van 30 April tot 3 Mei, met wedstryde wat by Diamantveld B, Boys’ High Kimberley en die Laerskool Staats aangebied word. Intussen word senior rugby (o.19) en netbal (o.16 en o.19) by Hoërskool Diamantveld gespeel.

In 2024 het die AWSST ’n indrukwekkende 32 000 toeskouers gelok, wat dit een van die skolesportbyeenkomste in die land maak wat die beste bygewoon word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.