On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Polisie soek verdagtes ná skietery op optoggangers in Heidedal

───   ZENANDE MPAME 11:45 Tue, 25 Feb 2025

Polisie soek verdagtes ná skietery op optoggangers in Heidedal | News Article
Die slagoffer is ure ná ’n vreedsame optog geskiet. Foto: Facebook/Angelo Beyers

Bloemfonteinse polisie soek steeds na “gevaarlike, gewapende” verdagtes nadat ’n inwoner van Heidedal doodgeskiet is tydens ’n vreedsame optog na die plaaslike polisiekantoor.

Inwoners het Sondag (23/2) na die polisiekantoor gestap om ’n klagskrif in te dien nadat ’n sersant en ’n konstabel na bewering ’n maand tevore vir Steffney Booysen aangerand het toe sy ’n klag oor gesinsgeweld wou ingedien het.

Ure later kon skote gehoor word op die roete wat die optoggangers gevolg het. “’n Man (50) is in die kop geskiet,” sê Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Gemeenskapslede het gesien hoe twee voertuie, ’n swart VW Amarok en ’n silwer luikrug, wegjaag.”

Die Amarok is ure ná die skietery by ’n vulstasie in Nelson Mandelarylaan opgemerk, en drie verdagtes (tussen 35 en 45) is in hegtenis geneem, sê hy. Hulle het Dinsdag (25/2) in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn in verband met die moord. ’n Vuurwapen wat aan een van die verdagtes behoort, is vir ballistiese toetse weggestuur.


“Die soektog na die silwer luikrug en sy insittendes … duur voort,” sê Kareli. “Die polisie maan die gemeenskap om waaksaam te bly en nie die verdagtes te nader nie, aangesien hulle as gewapen en gevaarlik beskou word.”

Enigiemand met inligting oor die voorval, moet kapt. Jacques Wilson by 061 501 8007 nader of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

Molebogeng Marumo (38) en Mamorena Shuping (28) van die Heidedal-polisiekantoor in Bloemfontein moet weer Vrydag 7 Maart in die Bloemspruit-landdroshof verskyn.


Die beamptes is Donderdag 6 Februarie in hegtenis geneem nadat beeldmateriaal van die aanranding wyd op sosiale media versprei is. Hulle het tydens hul vorige hofverskyning borgtog van R1 000 elk gekry.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.