On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Drietal van Namakwaland in hof oor bedreigde plante

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:37 Tue, 25 Feb 2025

Drietal van Namakwaland in hof oor bedreigde plante | News Article
Die drie verdagtes is in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige besit van bedreigde plante. Foto SAPD

Drie verdagtes sal na verwagting Dinsdag (25/2) in die hof op Springbok verskyn nadat hulle met bedreigde plante ter waarde van ongeveer ’n halfmiljoen rand aangekeer is.

Die vinnige reaksie deur Kamieskroon se polisie het gelei tot die inhegtenisneming van die drie Wes-Kapenaars (31, 32 en 39), sê kol. Cherelle Ehlers, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.

Volgens Ehlers het die polisie Maandag (24/2) omstreeks 16:30 inligting ontvang oor ’n Hyundai-vragmotor wat in Namakwaland van Leliefontein na Kamieskroon onderweg was.

Kamieskroon se polisie het vinnig gereageer. Foto: SAPD

Die polisie het die voertuig voorgekeer en tydens deursoeking beslag gelê op sowat 30 sakke met 1 309 bedreigde plante. Daar is ook beslag gelê op die voertuig wat vir die beweerde misdaad gebruik was.

LEES OOK: Vyf verdagtes met miljoene se bedreigde plante aangekeer

Die drie verdagtes is in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige besit van bedreigde plante, sê Ehlers.

Daar is beslag gelê op sowat 30 sakke met 1 309 bedreigde plante. Foto SAPD

Volgens die Financial Times is bedreigde plante veral vetplante soos spesies van die Conophytum-genus, gewild onder versamelaars, wat daartoe gelei het dat misdadigers dit ál meer bymekaarmaak en daarmee smokkel.

Georganiseerde misdaadnetwerke buit plaaslike gemeenskappe uit om hierdie plante vir internasionale kopers bymekaar te maak, veral in Oos-Asië. Hierdie onwettige handel het gelei tot ’n vinnige afname in plantbevolkings, sodat amper die helfte van die geaffekteerde spesies nou gevaar loop van uitwissing.

LEES OOK: LUR besoek NK-streek weens smokkelary van bedreigde spesies

Die hoofredes vir dié onwettige handel sluit in:

• Hoë markaanvraag: Die unieke voorkoms en skaarsheid van hierdie plante maak hulle gesog by versamelaars, veral in buitelandse markte.

• Winsgewendheid: Die hoë pryse wat skaars plantspesies haal, bied stropers en handelaars aansienlike finansiële aansporing.

• Beperkte wetlike beskerming: Ten spyte van wetlike beskerming, is wetstoepassing dikwels uitdagend weens die klandestiene aard van die handel en die groot vraag na hierdie plante.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.