On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vaal-ma skenk lewe in aanhouding ná sy glo peuter verkoop

───   ZENANDE MPAME 12:17 Mon, 24 Feb 2025

Vaal-ma skenk lewe in aanhouding ná sy glo peuter verkoop | News Article
Vaal-ma skenk lewe in aanhouding nadat sy glo peuter verkoop. Foto: X

Die Vanderbijlpark-ma wat na bewering haar tweejarige peuter verkoop het, moet op 7 April terug wees in die Vanderbijlparkse landdroshof nadat haar borgtogaansoek van die hand gewys is.

Keneilwe Shalaba (33) het Woensdag (19/2) in aanhouding lewe geskenk aan ’n tweeling nadat sy tydens haar borgaansoek beweer het dat sy as hoogswanger vrou nie behoorlike mediese sorg kry nie.

Shalaba word aangekla van mensehandel, sameswering om ’n misdryf te pleeg en ’n vals verklaring aan die polisie nadat sy na bewering in November gejok het oor haar kind se ontvoering.

“Tydens die borgtogaansoek het die beskuldigde getuig dat sy geen vorige oortredings het nie en nie in aanhouding vir haar kinders kan sorg nie,” sê Lumka Mahinjana, Gautengse NVG-woordvoerder.


Cornelle Grobler, die staatsaanklaer, het egter borgtog teengestaan en gesê die beskuldigde is ’n gevaar vir haar kinders aangesien dieselfde lot hulle kan tref as hul boetie.

In reaksie op Shalaba se bewerings oor die swak omstandighede waarin sy aangehou word, het Grobler gesê sy word in ’n kraamsaal aangehou waar sy die nodige mediese sorg ontvang. Sy is ook nie die eerste vrou wat in aanhouding kraam nie.

Die hof het Woensdag 12 Februarie gehoor dat R75 000 in Shalaba se rekening inbetaal is op dieselfde dag wat sy beweer Kutlwano ontvoer is. ’n Paar dae later het sy haar na bewering voorgedoen as die ontvoerder en glo nog R40 000 as losprys van die seuntjie se pa geëis.

Die tweejarige is steeds nie opgespoor nie. Foto verskaf

Kutlwano is laas gesien op Sondag 10 November toe sy ma beweer het drie mans het hom van haar rug afgeruk en in ’n silwer VW Polo op die vlug geslaan. Drie dae later het sy die voorval by Boipatong-polisiekantoor aangemeld as ’n ontvoering.

Die polisie kon egter geen bewyse van ’n ontvoering vind nie, waarna sy glo beken het dat sy gejok het. Sy is nege dae later in hegtenis geneem.

Die polisie het wyd en syd gesoek, maar die tweejarige is steeds nie opgespoor nie. “(Ons) sal aanhou soek en die skuldiges voor die gereg bring,” sê Mahinjana.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.