Central SA
Twee vermeende kapers in Noordwes aangekeer─── KEKELETSO MOSEBETSI 09:17 Sun, 23 Feb 2025

Twee verdagtes wat vir beweerde ontvoering, kaping en diefstal in hegtenis geneem is, sal na verwagting Maandag (24/2) in die Mogwase-landdroshof in Noordwes verskyn.
Hulle is Vrydag (20/2) in Ledig naby Sun City in hegtenis geneem. Hul inhegtenisneming hou verband met ’n kapingsvoorval in Desember.
Die voorval het op Donderdag 12 Desember 2024 naby Boshoek plaasgevind. Die mans was in ’n silwer Volkswagen Polo en word daarvan aangekla dat hulle ’n vragmotor gekaap het wat diesel vervoer het. Die vragmotorbestuurder is na bewering met ’n vuurwapen gedreig, met geweld na ’n afgeleë gebied geneem en toe aangerand. Die slagoffer is ook van sy selfoon en kontant beroof.
Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder, beweer die kapers het diesel ter waarde van R200 000 uit die vragmotor getap. Ná die aanranding is die bestuurder vrygelaat en hy het daarin geslaag om die vragmotor terug te kry. Die sleutels was nog in die vragmotor.
Mokgwabone sê die ondersoekspan het bestaan uit lede van die provinsiale ondersoekeenheid, die Rustenburg Taktiese Reaksiespan, die polisie se eenheid vir openbare orde en die Bojanala Platinum Sub-distrik 2 misdaadintelligensie.
Hulle het beslag gelê op ’n windbuks by een van die verdagtes se huis, asook die motor wat in die misdaad gebruik is. Die ondersoek duur voort.
OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi dg