On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Glen-landboukollege sluit om probleme met verblyf op te los

───   ZENANDE MPAME 11:33 Mon, 24 Mar 2025

Glen-landboukollege sluit om probleme met verblyf op te los | News Article
Glen Kollege sluit om probleme met verblyf op te los. Foto: DA

Die Glen-landboukollege is gesluit tot Vrydag (18/4) ná protesaksies oor swak lewensomstandighede, waarna studente die daaropvolgende Maandag na die kampus sal terugkeer.

Die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling het verlede Woensdag (19/3) die besluit geneem om die kollege summier tydelik te sluit.

Studente het Woensdag betoog oor slegte lewensomstandighede, insluitend gebrekkige rioolstelsels, onhigiëniese koshuiskos en die ongereelde skoonmaak van kamers.

“Die besluit is geneem om die kollege ’n week vroeër te sluit sodat die bestuur hierdie probleme deeglik kan ondersoek,” sê Moliehi Moeng, departementele woordvoerder.


Volgens haar het studente tydens die protesoptrede klagtes aan die kollege se bestuur gerig oor onbetroubare water- en kragvoorsiening, asook ’n gebrek aan infrastruktuuronderhoud in die koshuise. Die sluiting sal die bestuur kans gee om behoorlik aandag aan die klagtes te skenk.

OFM Nuus het voorheen berig studente het die hoofingang versper as deel van hul betoging. Die situasie het vererger toe die polisie opgedaag en studente met hulle slaags geraak het.

Die DA sê hy hou die departement aanspreeklik vir die besluit om Glen-landboukollege tydelik te sluit en eis volledige deursigtigheid oor die maatreëls wat getref word om die probleme op te los.


Die party het klagtes van studente en ouers ontvang oor beweerde swak bestuur, bedrog en korrupsie, ’n gebrek aan instandhouding en studiehulpmiddels, asook onvoldoende persoonlike beskermende toerusting.

“Die departement bestee ongeveer R37 miljoen per jaar aan die instelling, wat ’n bate vir die provinsie behoort te wees om die landbou-ekonomie te stimuleer en nuwe toetreders te ondersteun,” sê Werner Pretorius, DA-lid van die komitee vir landbou en landelike ekonomiese ontwikkeling.

Hy sê LUR Elzabe Rockman het op ’n vergadering erken ’n ernstige bestuursprobleem by die kollege verg dringende aandag. Die DA sal Rockman verantwoordelik hou vir haar verklarings in die komitee en die situasie by die kollege monitor.

Moeng sê die kollege se bestuur en studente het ’n ooreenkoms bereik om ’n pad vorentoe te bepaal en om uitdagings die hoof te bied sodat ’n geskikte omgewing vir onderrig en leer gehandhaaf kan word.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.