Central SA
Bloemspruit kry sewe nuwe polisievoertuie─── ZENANDE MPAME 13:47 Mon, 24 Mar 2025

Die Bloemspruit-polisiekantoor in Bloemfontein sal binne die volgende twee weke sewe nuwe voertuie ontvang om beter diens in sy omgewing te lewer.
Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het dié belofte Donderdag (20/3) gemaak op ’n ministeriële vergadering met bevelvoerders van veediefstaleenhede en ander belanghebbendes om die toenemende probleem van veediefstal in Suid-Afrika hok te slaan.
Die landbougemeenskap het ministers op die hoogte gebring van die uitdagings waarmee hulle op die platteland te kampe het, veral die stadige of afwesige polisiereaksie weens ’n tekort aan voertuie.
“Baie van die klagtes wat ons ontvang het, was oor die Bloemspruit-polisiekantoor en hul gebrek aan voertuie om misdaadtonele by te woon,” het Masemola gesê. “Ek het voorheen ses gebruikte voertuie aan die provinsie geskenk, maar dit is nie goed ontvang deur die huidige premier en LUR nie.”
Hy het opnuut belowe: “Ons gaan vir Bloemspruit sewe nuwe voertuie gee. Dit sal binne die volgende twee weke afgelewer word, en die voertuie sal uit die provinsiale kommissaris se vloot kom, waarna ons dit sal vervang.”
Masemola het beklemtoon veediefstal in Suid-Afrika kan slegs deur samewerking tussen wetstoepassers, boere, gemeenskappe en regeringsagentskappe doeltreffend beveg word. “Deur sterk vennootskappe en proaktiewe voorkomingsmaatreëls te bevorder, kan ons lewensbestaan beskerm, voedselveiligheid versterk en ’n veiliger landelike omgewing verseker.”
Boere, inwoners en boere-unies het in Kopano Nokeng Lodge buite Bloemfontein vergader om veediefstal te bespreek. Foto: Screenshot/YouTube
Boere, inwoners en boere-unies het in Kopano Nokeng Lodge buite Bloemfontein vergader om veediefstal te bespreek. Die doel van die ministeriële vergadering was om die toenemende probleem van veediefstal te bespreek, bestaande ingrypings te hersien en bykomende strategieë te ondersoek om hierdie misdaad te beveg, wat steeds ’n verwoestende uitwerking op plaaslike ekonomieë, gemeenskappe en boere het.
“Ons jongste misdaadsyfers toon ’n afname van 4,5% in veediefstal, wat ’n welkome verligting vir boere, gemeenskappe en die landbousektor in die geheel is,” sê Masemola. “Boere en gemeenskappe moet waaksaam bly, verdagte aktiwiteite dadelik aanmeld en nou saamwerk met veediefstaleenhede en gemeenskapspolisiëringsforums.”