Central SA
Premier skets rooskleurige prentjie van Vrystaat se ekonomie─── MORNÉ VAN ROOYEN 12:42 Fri, 21 Feb 2025

Die Vrystaatse premier sê beter ekonomiese vooruitsigte, ondanks ontwrigtings en wêreldwye onsekerheid, inspireer haar regering.
In die derde kwartaal van 2024 het die werkloosheidsyfer kwartaal op kwartaal afgeneem van 37,6% tot 36%, het MaQueen Letsoha-Mathae Vrydag (21/2) tydens haar provinsiale rede in die Heidedal, Bloemfontein, gesê.
Sy beskryf dit as ’n keerpunt. “Tekens van konsekwente en volgehoue ekonomiese groei is bemoedigend. Danksy laer inflasie, dalende rentekoerse en volgehoue beleggings sal ons ekonomiese groei na verwagting vanjaar tot 1,6% sal verbeter.”
Dit was die premier se tweede provinsiale rede.
Letsoha-Mathae sê die regering se “onvermoeide pogings” om werk te skep deur openbare indiensnemingsprogramme was “uiters lonend”. “Werk word reeds jare lank deur die uitgebreide openbarewerkeprogram geskep, waarvan vroue, die jeug en gestremde persone die vernaamste begunstigdes is.”
In Fase 5 van dié program beoog die provinsiale regering om 30 115 werkgeleenthede te skep. “Ek maak graag vandag bekend in die 2024/25-boekjaar, die eerste jaar van Fase 5, het ons 19 792 werkgeleenthede geskep,” sê die premier.
Die regering is onwrikbaar verbind tot die ontwikkeling van KMMO’s. “Dit vorm ongetwyfeld die grondslag van ons inklusiewe groei en werkskepping,” sê sy en noem voorbeelde van projekte, programme en vennootskappe.
MaQueen Letsoha-Mathae, Vrystaatse premier, voor haar tweede provinsiale rede, Vrydag (21/2) in Bloemfontein. Foto: Zenande Mpame
“Ons sal nóg programme invoer om toegang tot finansiering en geleenthede te verbeter, veral vir vroue, die jeug, gestremdes en sakeondernemings in besit van militêre veterane. Ons maak nie verskoning hiervoor nie.”
Sy belowe om die getal mededingende kleinsakeondernemings te verhoog, veral in townships en plattelandse ekonomieë. “Dit sal gepaardgaan met lokalisering en industrialisasie deur doelgerigte, strategiese verkryging.”
Die regering sal die provinsie se ekonomiese landskap omskep deur voorkeur te gee aan Vrystaatse ondernemings in die verkryging van goedere en dienste om hul bydrae te verseker tot die provinsie se ekonomiese groei.
Openbare entiteite herposisioneer
Wat vervaardiging betref, wil die premier die sektor se 10,2%-bydraer tot die ekonomie verhoog deur vennootskappe en ’n spesiale ekonomiese sone in Maluti-a-Phofung.
“Voorstelle is gemaak om al ons openbare entiteite te herposisioneer ná ’n deeglike beoordeling verlede jaar,” sê Letsoha-Mathae. “Ons sal binnekort ’n nuwe raad vir die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie aanstel om beleggings te lok, korporatiewe bestuur te verbeter en bedrywighede te versterk.
“Dit sal nie net die doeltreffendheid van ons openbare entiteite verhoog nie, maar veral ekonomiese groei aanwakker, werkskepping bevorder en armoede verlig,” belowe sy.