On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Olifant-eienaar kry nuwe regspan, het glo nuwe feite vir borgaansoek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:27 Fri, 21 Feb 2025

Olifant-eienaar kry nuwe regspan, het glo nuwe feite vir borgaansoek | News Article
Sonell Joubert word aangekla van die beweerde moord op Jurgens Nel. Foto: Facebook

Die verdagte in die Mpumalanga-moordsaak het versoek dat haar borgtogaansoek heropen word, met verwysing na die aanstelling van ’n nuwe regspan en nuwe feite wat moontlik die uitslag van die aansoek kan beïnvloed.

Sonell Joubert (45), wat teregstaan weens die moord op Jurgens Nel (45), het Dinsdag (8/2) in die Tonga-landdroshof verskyn. Die landdros was gereed om uitspraak te lewer oor haar borgtogaansoek, maar Joubert het die hof ingelig dat sy ’n nuwe regsverteenwoordiger het, sê lt.kol. Jabu Ndubane, polisiewoordvoerder.

“Joubert se nuwe regsverteenwoordiger het formeel versoek dat haar borgtogverhoor heroorweeg word sodat nuwe getuienis aangebied kan word.”

Joubert het haar vorige regspan in die pad gesteek en dit was die eerste keer dat Marco Lamberti namens haar optree. Lamberti het ’n beëdigde verklaring van Joubert voorgelees wat die hof oortuig het om haar borgtogaansoek te heropen.

Jurgens Nel. Foto: Facebook

Volgens Ndubane sou landdros Ningi Neko Dinsdag sy uitspraak ná die voltooiing van Joubert se borgtogaansoek op 10 Februarie lewer,“ maar Lamberti het egter aangevoer dat nuwe feite aan die lig gekom het wat die uitslag van die verhoor kan beïnvloed. Een kernfeit is dat Joubert geen vorige kriminele oortredings gehad het ten tyde van haar inhegtenisneming nie.”

Die saak is gevolglik tot volgende week uitgestel.

Intussen is ’n Back-a-Buddy-fondsinsamelingsinisiatief van stapel gestuur om Joubert se regskoste te help dek. “Sonell het een van die beste regsverteenwoordigers in Suid-Afrika wat veg vir haar vrylating. Haar regskoste is uiters hoog, en alle fondse wat ingesamel word, sal direk in Sonell se persoonlike bankrekening ingaan,” lui die inskrywing by die fondsinsameling.

Die moordbeskuldigde Sonell Joubert. Foto: Facebook

Joubert is vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem op die plaas waar sy haar besigheid, Tswale Educational Elephant Interactions, bedryf. Sy word daarvan aangekla dat sy Nel verskeie kere met ’n mes in die bors en maag gesteek het.

Volgens Ndubane is die polisie aanvanklik na die plaas ontbied om Nel in hegtenis te neem omdat hy na bewering ’n beskermingsbevel oortree het wat Joubert teen hom bekom het. Met hul aankoms het hulle egter Nel se lewelose liggaam in sy kamer ontdek. Paramedici het hom later dood verklaar.

Selfverdediging beweer

Joubert het tydens haar eerste hofverskyning beweer sy het die mes uit selfverdediging gebruik nadat Nel haar na bewering aangeval het.

Volgens Ndubane is Joubert en haar kêrel, Johan Möller, voor die huidige hofverrigtinge in hegtenis geneem op aanklagte van minagting van die hof. Dié arrestasie spruit uit ’n saak wat deur Shofeeds (Edms.) Bpk., die maatskappy wat die plaas besit waar Joubert en Möller hul besigheid bedryf het, aanhangig gemaak is. Shofeeds het aansoek gedoen om die olifant van die eiendom te laat verwyder nadat Joubert en Möller geweier het om te trek.

Die moordbeskuldigde Sonell Joubert. Foto verskaf

Die grondeienaar het aangevoer dat hy krimineel aanspreeklik gehou kan word indien iemand tydens interaksies met die olifant beseer of gedood word. Die hooggeregshof het die aansoek om die olifant te verwyder toegestaan, maar Joubert en Möller het die hofbevel geïgnoreer om die dier binne sewe dae te verwyder.

Hulle het op 15 Augustus teen die besluit geappelleer, maar hul appèl is van die rol geskrap omdat hulle versuim het om te verskyn. Die saak is later op Möller se versoek weer vir 20 Augustus gelys, maar weereens is die appèl van die hand gewys toe Joubert en Möller nie opgedaag het nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.