Central SA
’Premier skuld Vrystaat eintlik ’n verskoning’ – VF Plus─── MORNÉ VAN ROOYEN 12:44 Fri, 21 Feb 2025

Die premier het langer as ’n uur niks nuuts gesê nie, behalwe dat haar party sy verbintenis met China verder gaan versterk, sê ’n opposisieparty ná MaQueen Letsoha-Mathae se provinsiale rede Vrydag (21/2) in Heidedal, Bloemfontein.
Armand Cloete, VF Plus-wetgewerlid, beskryf die toespraak as “’n mors van tyd en belastinggeld” en sê: “Die premier en die ANC skuld die inwoners van die Vrystaat eintlik ’n verskoning.
“Sy behoort jammer te sê vir die feit dat die provinsie onder haar party byna onherkenbaar verniel is en munisipaliteite mislukkings is waar gemeenskappe weke lank sonder water gelaat word.”
Letsoha-Mathae het gesê: “Ons versterk steeds ons verhoudinge en samewerking met eendersdenkende provinsies in ander lande ter ondersteuning van ontwikkelingsprioriteite. Ons verstewig steeds ons samewerking met die Volksrepubliek China wat toegespits is op die uitbreiding van ekonomiese geleenthede.”
VF Plus-wetgewerlid, Armand Cloete. Foto verskaf
Dié vennootskap het gelei tot die skenking van elf kragopwekkers, het die premier gesê, wat versprei sal word by skole, gesondheidsinstellings en regeringsgeboue wat te kampe het met “kragtekorte”. “Ons waardeer dié gebaar.”
Mangaung-metro se kragvoorsiener, Centlec, het twee weke gelede die kragtoevoer na talle Vrystaatse staatsdepartemente en sakeondernemings afgeskakel weens uitstaande skuld van meer as R1 miljard.
Van die instellings wat in die donker gelaat is, is vername owerheidskantore soos dié van die premier en entiteite soos die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie, die Sand du Plessis-skouburg, Musicon, die Lebohang-, Fidel Castro- en OR Tambo-gebou.
MaQueen Letsoha-Mathae is sedert verlede jaar die Vrystaat se premier. Foto: Bloemfontein Courant/Gypseenia Lion
Die premier het in haar rede gesê die Vrystaat is gereed om munt te slaan uit geleenthede wat Suid-Afrika se presidentskap van die G20 skep. “Ons sien uit daarna om vandeesmaand medegasheer te wees van die bio-ekonomiese sessie by die Universiteit van die Vrystaat.”
Letsoha-Mathae het gesê terwyl haar regering nadink oor die verlede en uitsien na die toekoms, “is ons s’n ’n transformerende reis vol prestasies, vasbeslotenheid en die moed om te slaag”.
Vanjaar se provinsiale rede is in Heidedal, Bloemfontein, gelewer.
Die VF Plus is minder optimisties. “Onder die ANC is dit die norm dat inwoners sekere dienste soos padherstelwerk self doen omdat die provinsie sukkel om kontrakteurs aan te stel wat die werk kan doen.
“Dit is ook die norm dat pasiënte onder haglike toestande in hospitale en klinieke lank moet wag vir behandeling en medikasie,” sê Cloete. “Die provinsie verdien beter. ’n Beter toekoms sal net bereik kan word sonder die ANC.”