On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Oorlewende kind se oupa skryf aan bestuurder se familie ná ongeluk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:47 Fri, 21 Feb 2025

Oorlewende kind se oupa skryf aan bestuurder se familie ná ongeluk  | News Article
Cornelius Berry, Madelein Berry en Tennique Joubert. Foto verskaf

Die bestuurder van die bakkie wat betrokke was in ’n botsing wat drie Bloemfonteinse leerders se lewe geëis het, het nie gereageer op ’n brief aan hom deur die enigste oorlewende kind se oupa nie.

“Daar is nou twee huisgesinne wat leë huise het en met leë harte moet aanhou lewe en aangaan,” het Cornelius Berry (52) Maandag (17/2) aan die 19-jarige en sy familie geskryf. Sy identiteit kan nie bekendgemaak word nie omdat hy nie aangekla is nie, hangende die ondersoek.

Berry se kleindogter Tennique Joubert (6) is Woensdag 12 Februarie ná drie weke uit die hospitaal ontslaan.

Die boeties Ryan Smit (6) en Ayden Smit (8) en hul niggie Leané van Papendorp (8) is dood in die ongeluk op 24 Januarie op die kruising van die N8 en Krugerlaan. Die Chevy Spark waarin hulle op pad skool toe was, was in ’n botsing betrokke met ’n Toyota Hilux.

Tennique Joubert. Foto verskaf

Adri Jonck, Leané se ma, het die Chevy bestuur, terwyl die 19-jarige die bakkie bestuur het, het kapt. Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder, voorheen bevestig.

Barry begin die brief deur te sê dat hy graag hierdie boodskap aan die bestuurder en sy familie stuur en hoop hulle lees dit klaar en dat dit hulle sal aanraak.

‘Daar is nie uitgereik net om meegevoel te betuig nie’

“Ek hoop en bid dat die bestuurder van die Hilux-bakkie orraait is en dat hy nie ernstige beserings opgedoen het nie. As hy het, hoop en bid ons dat hy ten volle sal herstel.

“Dan wil ek ook net graag vra en jou gedagtes ’n bietjie vandag laat loop. Wat sou jy gedoen het as dit jou kind was wat in die pad gelê het? As jy jou kind nou die dag moes begrawe of in die hospitaal moes gaan kuier waar sy in die hoësorgeenheid lê?

“Wat sou jy van die insittende(s) van die ander motor verwag? En, nee, ek praat nie van heeltemal uitkom in die publiek nie. Ek praat van in die privaat. Daar is twee huisgesinne wat leë huise het en met leë harte moet aanhou lewe en aangaan.”

Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan, verloor. Foto: Facebook/Martin Smit

Hy skryf hulle het ’n “klein engeltjie” wat oorleef het, maar vir wie ’n lang herstelpad voorlê. “Daar is nie uitgereik net om meegevoel te betuig oor ons verlies en skade of iets in daai lyn nie.

“Ek stuur vandag die boodskap aan jou en jou gesin. Nie om te baklei of vinger te wys nie. Ek stuur die boodskap om vir julle te sê dat ons aan julle dink en dat ons vir julle sal bid deur hierdie swaar en moeilike tyd.”

Herman van Papendorp en Adri Jonck met die foto van hul dogter, Leané. Foto: Charne van der Merwe

Earle sê intussen die ondersoek is aan die gang en moet afgehandel word voordat enigiemand aangekla sal word. Tot dan mag die naam van die bakkiebestuurder nie vermeld word nie,” sê Earle.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.