On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan Anny
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kapenaar swaar gestraf weens verkragting, moord

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:43 Fri, 21 Feb 2025

Noord-Kapenaar swaar gestraf weens verkragting, moord | News Article
Itumeleng Bendow Machabe. Foto verskaf

’n Noord-Kapenaar is op die verjaardag van een van sy slagoffers twee lewenslange vonnisse van tronkstraf opgelê, benewens 44 jaar, op aanklagte van onder meer verkragting, afpersing, bedrog, crimen injuria en kinderpornografie.

Itumeleng Bendow Machabe (27) is Dinsdag (18/2) in die Kimberley se hooggeregshof gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die moord en verkragting van Relebogile Segami (11) in Maart 2022, sê lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.

Hy is ook skuldig bevind aan die verkragting van drie ander kinders tussen die ouderdomme van 13 en 15. Die ander aanklagte teen hom sluit in afpersing, bedrog, crimen injuria en misdrywe wat met kinderpornografie verband hou.

Machabe het sy slagoffers met ’n vals Facebook-profiel gelok en voorgegee dat hy ’n 16-jarige lesbiese meisie is. Hy het toe die kinders afgepers deur eksplisiete video’s en naakfoto’s op die platform te plaas. Dié misdade het tussen 2013 en 2022 in Kimberley plaasgevind.

Itumeleng Bendow Machabe. Foto verskaf

Volgens Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, is Segami op 30 Maart 2022 deur haar familie as vermis aangemeld. Die polisie het met die hulp van die Galeshewe-gemeenskap na haar begin soek. Haar lyk is die volgende dag naby die wetgewergebou in Kimberley gevind. Ondersoeke het aan die lig gebring dat Machabe die laaste persoon was wat saam met Segami gesien is voor haar verdwyning.

Machabe is in hegtenis geneem en sy eerste hofverskyning het op 4 April 2022 plaasgevind. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte. Tydens sy borgtogaansoek het die hof verneem van ’n vorige verkragtingsklag teen hom waarby ’n meisie (15) betrokke was, waarvoor hy op borgtog uit was. Dit het daartoe gelei dat die staat sy borgtogaansoek teengestaan het.

Senokoatsane sê bykomende slagoffers het tydens die ondersoek na vore gekom en onthul dat Machabe ’n meisie (13) in 2013 verkrag het toe hy ook minderjarig was. “Hoewel ’n saak destyds geopen is, is dit later deur die familie teruggetrek weens vertragings in die verrigtinge.”

Die familie van die vermoorde Relebogile Segami het ’n swaar straf in die hof voorgestel. Foto verskaf

Ná Machabe se inhegtenisneming in 2022 het die slagoffer egter na vore gekom om te getuig.

Tydens die verhoor het die staatsaanklaer adv. Elmari Kruger aangevoer dat Machabe doelbewus kwesbare, onskuldige kinders geteiken het. Sy het gesê dat hy geen berou getoon het vir sy dade nie, wat verwoestende gevolge gehad het nie net vir die slagoffers nie, maar ook vir hul families. 

Die hof het gehoor hoe Machabe sosiale media gebruik het om die slagoffers te lok en naakfoto’s te plaas. Een van die slagoffers het getuig dat Machabe haar verskeie kere verkrag het en haar gedwing het om skokkende dade uit te voer en gedreig het om haar te verdrink as sy sou skree.

Beperkte DNS-bewyse

Ondanks beperkte DNS-bewyse het die aanklaer aangevoer dat omstandigheidsgetuienis die saak teen Machabe ondersteun. Die hof is versoek om die teenstrydighede en onwaarskynlikhede in Machabe se weergawe van die gebeure te oorweeg.

Regter Cecile Williams het in vonnisoplegging die kommerwekkende koerse van geweldsmisdaad in Suid-Afrika beklemtoon, veral misdaad teen vroue en kinders. 

Machabe is tot twee lewenslange vonnisse plus 44 jaar tronkstraf gevonnis, met die vonnisse wat samelopend uitgedien word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.