On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Nog twee gesoek ná skietdood van Oos-Randse polisiekaptein

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:35 Thu, 20 Feb 2025

Nog twee gesoek ná skietdood van Oos-Randse polisiekaptein | News Article
Wyle kapt. Wynand du Toit van Springs. Foto: Facebook

Twee verdagtes in die moord op ’n Oos-Randse polisiekaptein sal na verwagting weer Donderdag (27/2) in die hof verskyn.

Intussen vra Gautengse polisie enigeen met inligting oor waar die ander twee verdagtes hulle bevind, moet dringend van hulle laat hoor. 

Nthuthuzelo Mana (32) en Benjamin Ntuli (37), wat vroeër vandeesweek in hegtenis geneem is, het Woensdag (19/2) in die Springs-landdroshof verskyn, sê ao. Thatohatsi Mavimbela, provinsiale polisiewoordvoerder.

Wynand en sy seuns, Sheldon en Nathan. Foto: Facebook

Kapt. Wynand du Toit was Sondagoggend van diens af toe hy omstreeks 07:30 na ’n supermark in die voorstad Geduld ontbied is, sê Mavimbela. 

“Die supermarkeienaar en sy twee broers is deur vier mans oorval. Met Du Toit se aankoms het die (gewapende rowers) hom trompop geloop, waarna hulle op mekaar begin skiet het.”

Du Toit en een van die verdagtes is in die skietery gewond. Die verdagtes het op die vlug geslaan, en omstanders het met Du Toit na die Parkland-hospitaal gehaas, waar hy later aan sy beserings beswyk het.

Uitstekende spanwerk

Later daardie dag het iemand die polisie laat weet ’n man is met skietwonde opgeneem in die Pholosong-hospitaal in Tsakane, suid van Springs. Beamptes het Mana in hegtenis geneem en bewaak hom sedertdien. Hy het in absentia verskyn.

Nadere ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van die tweede verdagte, Ntuli, Maandag in Evander, sowat 80 km oos van Springs in Mpumalanga.

“Hierdie inhegtenisnemings span die kroon op uitstekende spanwerk en deurlopende samewerking tussen verskeie wetstoepassingsagentskappe,” sê genl.maj. Ebrahim Kadwa, Gautengse Valke-hoof.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.