Central SA
Noord-Kaap: Amper 40% werkloos al daal syfer─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:16 Thu, 20 Feb 2025

Hoewel die werkloosheidsyfer in die Noord-Kaap meer as in enige ander provinsie afgeneem het, laat dié provinsie se ekonomiese ontwikkeling steeds veel te wense oor.
Die uitgebreide werkloosheidsyfer in die Noord-Kaap het in die laaste kwartaal van 2024 effens afgeneem, maar teen 39,7% is dit steeds kommerwekkend hoog, sê DA-LPW Fawzia Rhoda, provinsiale woordvoerder oor finansies.
Volgens Statistieke Suid-Afrika se jongste verslag het die provinsiale werkloosheidsyfer van 30,4% in die derde kwartaal tot 27,4% in die vierde kwartaal gedaal, ’n geringe verbetering.
Sowat 23 000 nuwe werksgeleenthede
Die uitgebreide werkloosheidskoers, wat moedelose werksoekers insluit, het ook ’n afname beleef en met 3,4 persentasiepunte tot 39,7% gedaal.
In November 2024 het die getal Noord-Kapenaars met voltydse werk van 314 000 tot 337 000 toegeneem. Sowat 23 000 nuwe werksgeleenthede is geskep, veral in die landbou, gemeenskapsdienste, finansies, vervoer, boubedryf en handel.
Nogtans bly byna vier uit elke tien potensiële werkers in die Noord-Kaap werkloos, sê Rhoda, en die oplewing is bes moontlik net tydelik. “Die effense afname in werkloosheid kan grootliks toegeskryf word aan tydelike landbouwerkgeleenthede, wat sal eindig soos die seisoen verander.”
‘Elke sent openbare geld moet verstandig bestee word’
Die DA sê die provinsie kort meer as net politieke beloftes; werklike ekonomiese ontwikkeling is nou nodig. “Die bou van nywerheidsparke op dorpe wat nie die nodige infrastruktuur het nie of die vestiging van spesiale ekonomiese sones wat vir swak bestuur ondersoek word, sal nie die kwessie oplos nie.”
Rhoda sê die Noord-Kaap verg aansienlike beleggings in kritieke infrastruktuur soos paaie, spoorweë, hawens en betroubare munisipale dienste soos water en elektrisiteit sodat sakeondernemings kan floreer. Boonop glo die DA die provinsiale regering moet sy finansiële bestuur verbeter.
Openbare besteding moet die ondersteuning van klein besighede en entrepreneurs prioritiseer, nie net om in die belange van politici te voorsien nie. “Met dié dat soveel mense werkloos is, moet elke sent openbare geld verstandig bestee word,” maan Rhoda.
DA-LPW Fawzia Rhoda. Foto: People’s Assembly
Sy sê die DA vra bowenal ’n omvattende hersiening van die provinsiale regering se finansies om te verseker geld word aangewend word ter ondersteuning van klein, medium en mikro-ondernemings en entrepreneurs, pleks van baantjies vir boeties.
“Wanneer vier uit elke tien mense in die provinsie werkloos is, kan ons nie bekostig om ’n enkele sent te vermors nie,” sê Rhoda.
Die Vryemarkstigting beskryf werkloosheid in Suid-Afrika intussen as ’n “voortdurende maatskaplike ramp”, wat dringende wetlike hervormings vereis.
Nog geen beslissende stappe deur RNE
Die land het ’n situasie genormaliseer waarin ’n aansienlike deel van die bevolking werkloos bly, sê die stigting, ten spyte van hul potensiaal om produktief by te dra.
“Die regering van nasionale eenheid het nog geen beslissende stappe gedoen om hierdie krisis die hoof te bied nie. Ons sien geen betekenisvolle hervormings aan arbeidswergewing wat ’n merkbare uitwerking op die werkloosheidsyfer kan hê nie,” sê Zakhele Mthembu, beleidsbeampte.