Central SA
Noord-Kaap kry tolvrye nommers vir mediese noodgevalle─── ZENANDE MPAME 06:30 Wed, 19 Feb 2025

Die Noord-Kaapse departement van gesondheid het twee tolvrye nommers bekendgestel sodat pasiënte hulp kan ontbied, selfs sonder lugtyd.
Die nommers sal in al vyf distrikte beskikbaar wees om reaksietye gratis te verbeter. Intussen stel die departement honderd opgeleide noodbeamptes aan.
Maruping Lekwene, LUR vir Gesondheid, en Mxolisi Mlatha, waarnemende departementshoof, het Donderdag (13/2) ’n werksessie oor mediese nooddienste in Kimberley aangebied.
“As deel van die plan om oproepsentrums vir nooddienste te desentraliseer en nader aan gemeenskappe te bring, stel die departement tolvrye nommers bekend sonder enige koste vir kliënte,” sê Lebohang Majaha, die Noord-Kaapse departement van gesondheid se woordvoerder.
Maruping Lekwene, LUR vir Gesondheid tydens die dag lange werksessie oor mediese nooddienste in Kimberley. Foto: Facebook/Northern Cape Department of Health
“Om bestaande druk te verlig, veral op die platteland, het die departement die eerste elf uit 22 nuwe ambulanse ontvang, sowel as agt voertuie vir pasiëntvervoer.”
Tot einde 2024 het die departement op 94 849 noodoproepe gereageer, gemiddeld 1 265 oproepe per ambulans. Dit sluit nie privaat ambulans- en mediese lugdienste in nie.
In 2023 het die departement voertuie van R15 miljoen oorhandig om die tekort aan pasiëntvervoer in die Noord-Kaap aan te vul. Hy het ook onderneem om elke kwartaal nuwe noodvoertuie bekend te stel.
Die oorhandiging het plaasgevind nadat die departement in Maart 2023 verkwalik is vir die dood van nege mense op die N1 buite Hanover weens ’n gebrek aan werkende ambulanse. Die ongeluk tussen ’n taxi en ’n mynvragmotor het nege mense se lewe geëis: vier op slag en vyf later in die hospitaal.
“Om die personeeltekort in die provinsie aan te vul, het die Noord-Kaapse Kollege vir Mediese Nooddienste verlede jaar suksesvol 30 studente opgelei, en vanjaar volg nog 30 studente, van wie 20 uit die platteland kom,” sê Majaha.
“Hierdie studente sal opgelei word om na hul gemeenskappe terug te keer en dienste te lewer sodra hulle die program suksesvol voltooi het.”
‘’n Vriendelike operateur het vinnig geantwoord’
Mense kan die volgende nommers vir mediese nooddienste gebruik: 0800 001 218 in die distrikte Frances Baard, Pixley Ka Seme en John Taolo Gaetsewe, en 0800 001 217 in ZF Mgcawu en Namakwaland.
OFM Nuus het die Francis Baard-nommer gebel om die diens te toets. ’n Vriendelike operateur het vinnig geantwoord nadat ons “Afrikaans” en toe “ander navrae” gekies het. Die diens is ook in Engels beskikbaar.