On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Leidrade opgevolg ná wrede dood van bobbejaan Raygun

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:47 Tue, 18 Feb 2025

Leidrade opgevolg ná wrede dood van bobbejaan Raygun | News Article
Skermgreep van Raygun wat deur ’n leerder aangeval word. Foto: Facebook

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) volg leidrade op ná die gewelddadige dood van ’n bobbejaan in Mpumalanga.

NDBV ondersoek talle leidrade van die publiek deeglik, sê Jacques Peacock, woordvoerder, maar nog geen inligting wat die skuldiges aan die pen kan laat ry nie.

Die vereniging bied ’n beloning van R20 000 aan vir enige inligting wat lei tot die suksesvolle vervolging van diegene wat verantwoordelik is vir Raygun se marteling en dood. Hy is Vrydag 7 Februarie by die Sekondêre Skool Botleng op Delmas doodgemaak en aan die brand gesteek, het Douglas Wolhuter, bestuurder van die NDBV se wildbeskermingseenheid vroeër gesê.

Maak saak af as onbelangrik

Die saak word gekompliseer deur die skoolhoof se weerhouding van die name van die drie leerders wat verfilm is terwyl hulle vir Raygun op die skool se dak jaag.

“Die skool beweer tien kinders het vroeër die oggend flou geword, wat hulle laat glo het dat die bobbejaan as deel van ’n toorritueel gestuur is,” sê Peacock. 

“Ons het Vrydag beraadslaag met die provinsiale onderwysdepartement en Mpumalanga se Toerisme-en-parke-agentskap, maar hulle stel meer belang in konflik tussen mens en dier in die algemeen, terwyl hulle dié saak as onbelangrik probeer afmaak.”

Die bobbejaanmannetjie, Raygun. Foto: Facebook

Jasper Zwane, Mpumalanga-onderwyswoordvoerder, bevestig die departement het ’n volledige verslag van die skool aangevra. “’n Besluit oor verdere stappe sal geneem word op grond daarvan.”

Talle video’s en foto’s het die ronde gedoen van hoe leerders Raygun met voorwerpe gooi terwyl hy verwoed op die dak rondhardloop. In sommige beeldmateriaal word gesien hoe leerders die bobbejaan met klippe bestook en hom skop.

In ’n grafiese videogreep word Raygun se tand uit sy mond geslaan terwyl kinders om hom spring en skree. Sy liggaam is later verder vermink. Ná ’n gesprek met die skoolbestuur het dit duidelik geword dat die voorval diep in bygeloof gewortel is. Bobbejane word met heksery vereenselwig. 

Klagskrif wat aanspreeklikheid eis

“Raygun het bloot vryheid in ’n nuwe omgewing gesoek, iets wat alle bobbejane instinktief doen. Geen dier behoort ooit sulke pyn en lyding te verduur nie,” het die NDBV gesê.

’n Klagskrif wat aanspreeklikheid eis, is Saterdag (8/2) deur dr. Tristán Kapp op change.org begin. Daarin word administratiewe aanspreeklikheid gevra en geëis dat die skoolbestuur ’n interne ondersoek gelas om te bepaal hoe so iets toegelaat is om onder hul toesig te gebeur.

Tweedens word geëis dat die skool ’n streng beleid teen dieremishandeling opstel en afdwing om te verseker dat alle leerders en personeel bewus is van die etiese en wetlike implikasies van sulke optrede.

Raygun se gewelddadige dood. Foto: NSPCA

Voorts word gevra dat die skool met plaaslike dierewelsynsorganisasies saamwerk aan opvoedkundige programme, wat leerders die belangrikheid van wildbewaring en die menslike behandeling van diere leer.

Laastens word in die petisie gevra dat gereelde oudits van die skool se beleide en praktyke rakende leerlinggedrag en etiek uitgevoer word, met deursigtige verslagdoening aan die skoolgemeenskap en die betrokke owerhede.

Die NDBV vra enigiemand met inligting oor die voorval moet ’n e-pos stuur na wild3@nspca.co.za. Alle wenke sal anoniem bly. Sodra hulle meen hulle het genoegsame getuienis, sal ’n klagte by die polisie ingedien word vir oorweging van vervolging, sê Peacock.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.