On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

NWU-koshuis na Bokkaptein Siya hernoem

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 16:02 Mon, 17 Feb 2025

NWU-koshuis na Bokkaptein Siya hernoem | News Article
Siya Kolisi. Foto: BBC

Die Noordwes-Universiteit (NWU) gaan ’n rugby-ikoon vereer deur een van sy koshuise na hom te hernoem.

Die Dennedorp-koshuis op die Potchefstroomkampus wat hoofsaaklik behuising verskaf aan die universiteit se groot groep rugbyspelers wat by die NWU-rugbyinstituut geaffilieer is, word Maandag (24/2) herdoop tot die Siya Kolisi-koshuis.

Kolisi, wat na verwagting die geleentheid gaan bywoon, het sy Springbokbuiging op 15 Junie 2013 teen Skotland gemaak, toe hy as speler van die wedstryd aangewys is. Hy het in 2018 die eerste swart kaptein van die Suid-Afrikaanse rugbyspan geword en die groep na geskiedkundige Wêreldbeker-oorwinnings in 2019 en 2023 gelei.

Rassie Erasmus en Siya Kolisi. Foto: Planet Rugby

Op dieselfde dag sal ’n nuwe multisportkoshuis op die Potchefstroomkampus, Invictus-koshuis, deur die Springbokafrigter Rassie Erasmus geopen word. Dié twee koshuise kan 104 inwoners huisves.

Erasmus het op 2 Mei 2023 ’n eredoktorsgraad van die NWU ontvang, en lewer eerskomende Maandag ’n gaslesing oor hoe iemand van die kantlyn na die kollig kan vorder.

“Invictus” is die Latyn vir “onoorwinlik” en het historiese betekenis omdat dit veerkragtigheid, krag en ’n ontembare gees simboliseer. Die term word wyd erken danksy William Ernest Henley se gelyknamige gedig, wat temas van volharding en selfbeheersing midde-in teëspoed verwoord.

Van township tot kapteinskap

“In ’n era waar universiteite daarna streef om inklusiewe en inspirerende omgewings te skep, sal die hernoeming van Dennedorp-koshuis na Siya Kolisi nie net sy merkwaardige prestasies vereer nie, maar ook die kernwaardes veerkragtigheid en gemeenskapsbetrokkenheid beliggaam wat hy verteenwoordig,” sê Bert Sorgdrager, NWU-raadsvoorsitter.

“Kolisi se reis van die township Zwide na die kapteinskap van die Suid-Afrikaanse nasionale rugbyspan is ’n voorbeeld van die aspirasies van baie studente wat deur uitdagings in die gesig gestaar word en tog streef na uitnemendheid.”

Siya Kolisi. Foto: SABC Sport

Volgens prof. Bismark Tyobeka, NWU-visekanselier, het die nasionale rugbykaptein ’n nalatenskap wat waardig is om na te streef.

“Met die naamgewing van die Siya Kolisi-koshuis eer ons nie net die speler, die man en die leier vir sy prestasies nie, maar ons vra dat almal wat daar gaan tuisgaan, in sy voetspore sal volg, ’n goeie invloed sal hê en ’n voorbeeld sal stel vir ander om met trots te volg.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.