On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-verdagtes bly in aanhouding ná mislukte OTM-roof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:54 Tue, 18 Feb 2025

Noordwes-verdagtes bly in aanhouding ná mislukte OTM-roof | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Ses verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n OTM in Noordwes wou opgeblaas het, bly in aanhouding tot hul borgaansoek op 26 Februarie.

Oatile Nchang (23), Thabo Obed Kalabase (40), Phemelo Motlhankane (24), Tshepang Edwin Mohapi (44), Rethabile Mohapinyana (27) en Letlala Qabano (37) het Maandag (17/2) die tweede keer in die Ditsobotla-landdroshof in Itsoseng voorgekom.

Hulle staan tereg op aanklagte van opsetlike saakbeskadiging en die onwettige besit van plofstof, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.


Volgens Myburgh het die verdagtes Woensdag (12/2) in die vroeë oggendure ’n deur langs ’n OTM in Sone 5 van Mareetsane opgeblaas.

“Met die polisie se aankoms op die toneel het die verdagtes in verskillende rigtings laat spat,” sê Myburgh. “Die polisie het egter daarin geslaag om die eerste verdagte, Nchang, wat in ’n wegkomvoertuig gewag het, in hegtenis te neem.

“Ondersoeke deur lede van die provinsiale moord-en-roofeenheid het gelei tot die inhegtenisneming van Kalabase en Motlhankane kort daarna.”

‘Hy bedank die boere vir hul samewerking met die polisie’

Sy sê boere het intussen die ander drie verdagtes – Mohapi, Mohapinyana en Qabano – op die nabygeleë Delareyville vasgetrek. Hulle is op die toneel in hegtenis geneem waar hulle in besit betrap is van sakke klere, klapmusse en note.

Die drie bogenoemde verdagtes het Vrydag (14/2) in Delareyville se landdroshof verskyn waarna hul verhoor na die Ditsobotla-landdroshof in Itsoseng oorgeplaas is om saam met die oorspronklike drie verdagtes, wat in Mareetsane in hegtenis geneem is, te verskyn.

Genl.maj. Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, betuig sy dank teenoor alle beamptes wat by die operasie betrokke was vir hul dapperheid. Hy bedank ook die boere vir hul samewerking met die polisie, wat verseker het dat die vermeende oortreders voor die hof gebring is.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.