Central SA
Vrystaters gevonnis weens koperdiefstal─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:40 Sun, 16 Feb 2025

Twee Vrystaatse mans is Vrydag (14/2), ná byna agt maande, weens koperdiefstal gevonnis.
Tomo Maema (50) en Molewa Ramoiloa (39) het in die Bloemfonteinse streekhof ’n vonnis van tien jaar gekry vir diefstal en beskadiging van Transnet-infrastruktuur, sê ao. Mahlomola Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die helfte van hul vonnis is opgeskort vir vyf jaar en ses maande elk, in verband met oortredings van die Immigrasiewet.
Volgens Kareli is Maema en Ramoiloa op 24 Julie deur private sekuriteitsbeamptes, wat saam met die Parkweg-polisie werk, in hegtenis geneem toe hulle besig was om seinkabels van Transnet te verwyder. “Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat albei mans ook onwettige immigrante was.”
Tot tien jaar gevonnis
Maema en Ramoiloa was sedert hul inhegtenisneming in aanhouding. Albei beskuldigdes het skuld beken op alle aanklagte.
Soos koperpryse wêreldwyd styg, kan misdaadsindikate hul diefstalaktiwiteite uitbrei, wat lei tot verdere ekonomiese verliese, berig BusinessTech. Koperpryse het verlede jaar rekordhoogtes bereik as gevolg van toenemende vraag en ’n verwagte tekort.
Koper is van kardinale belang vir nywerhede soos telekommunikasie, kragopwekking en konstruksie. Dit word gebruik in breëbandnetwerke, transformators en kragopwekkers.
Die vraag na koper neem ook toe weens die groei van hernubare energie. Volgens die Internasionale Energieagentskap (IEA) benodig elke MW wind- en sonkrag tussen 3 en 5 t koper.
Misdaadsindikate brei uit
Daar is ’n verwagte tekort aan koper en die opkoms van elektriese voertuie dryf ook die vraag aan, aangesien elke voertuig sowat 83 kg koper gebruik, vergeleke met slegs 23 kg in tradisionele motors. Hoewel herwinning in ongeveer 35% van die kopervraag voorsien, bly dit onvoldoende.
Die IEA waarsku teen 2030 sal aan net 80% van die wêreldwye kopervraag voldoen word, wat pryse selfs verder kan laat styg soos nywerhede uitbrei en op meer volhoubare energieoplossings aandring.
OFM Nuus cg